Vir die Romeine was godsdiens ’n praktiese noodsaaklikheid wat tot hulle welsyn en sukses bygedra het, asook maatskaplike orde bewerkstellig het. Hulle het maklik die kultusse van ander kulture oorgeneem mits dit nie ingemeng het met hul oorspronklike inheemse geloof dat hul voorouers, stigters en konings van goddelike afoms is nie. Die Romeinse godewêreld was maklik verenigbaar met díe van die Grieke. Daarom is van die Griekse mites opgeneem in die Romeinse geloof. Soos die Romeinse Ryk uitgebrei het, het die Romeine geleer van die gode en kultusse van ander lande en is hulle by die Romeinse gelowe geïnkorporeer. Die beloſte van verlossing na die dood en mistieke ervarings het baie mense aangetrek. Gedurende die bewind van Augustus is die gebruikswaarde van godsdiens uigebuit. Die Roma Deo kultus is aangemoedig. Dit het geïmpliseer dat die Keiser van goddelike oorsprong was en dus ’n direkte skakel na die geestelike wêreld kon wees. Hierdie kultus het Augustus bevorder en daarom ook die vereniging van die Romeinse Ryk. Christene het egter geweier om die keiser te aanbid en moes gevolglik baie lyding ervaar. Uiteindelik, toe die Christelike godsdiens in 312 n.C. gewettig is, het hierdie godsdiens in die Ryk oorgeneem en is dit nog steeds die dominante godsdiens.
RELIËFPANELE VAN DIE ARA PACIS AUGUSTAE. ONDER IS ’N OPTOG VAN AUGUSTUS AS HOËPRIESTER MET SY FAMILIE. ONDER DIT IS ’N MITOLOGIESE TONEEL WAT MOONTLIK NA DIE AARDGODIN OF VREDE, EN DUS OORVLOED, VERWYS.
DIE ARA PACIS AUGUSTAE - DIE ALTAAR VAN AUGUSTUS VREDE - ILLUSTREER DIE ROMEINE SE UTILITARISTIESE BENADERING TOT GODSDIENS EN DIE UITWERKING VAN DIE SIMBOLIEK DAARVAN. DIT IS OPGERIG OM DIE TERUGKEER VAN AUGUSTUS NA ROME IN 13 V.C. TE HERDENK. DIT VIER VREDE, VOORUITGANG EN GEESTELIKE HERNUWING NA DIE VERNIETIGENDE BURGEROORLOË. DIT IS VERSIER MET ORNAMENTELE BLARE IN RELIËF OP PARTY PANELE EN OP ANDER, MET FIGUURLIKE TONELE MET MITOLOGIESE TEMAS SOWEL AS OPTOGTE VAN SENATORE EN AUGUSTUS SE FAMILIE. VERDER VERSKYN DAAR OOK PANELE MET UITBEELDINGS VAN AUGUSTUS AS GODSDIENS- EN STAATSLEIER. DEUR MIDDEL VAN DIE VERWYSINGS NA BEIDE MITOLOGIESE EN KONTEMPORÊRE TONELE, WORD DAAR GESINSPEEL OP DIE VERWANTSKAP TUSSEN AUGUSTUS EN DIE GODE. DERHALWE WORD OOK SY GROOTHEID DEUR HIERDIE ALTAAR VERHEERLIK.
WOORDELYS
ROMA DEA is die gepersonifiseerde godin vir die stad Rome