Die Asteeke was ’n oorloglustige stam wat ook hulle hoofstad naby die moderne Meksiko-stad in 1325 gebou het. Hulle was wreedaardige mense ten opsigte van oorlog en godsdiens. Hulle het die Songod aanbid en het geglo dat hy homself opgeoffer het om die mens te skep. Gevolglik het hulle menslike offerandes gemaak omdat die mens die Songod moes terugbetaal.
Asteek-kultuur is bekend vir sy massiewe, monumentale steenbeeldhouwerke, soos gesien kan word in die 15de eeuse standbeeld van Coatlicue. Sy is die godin van die aarde en die moeder van die gode. Sy dra ’n romp van vervlegte slange wat simbolies is van die opofferingsdood. Sy het ’n halssnoer aan wat gemaak is van mensehande en -harte en ’n skedelhangertjie. Haar voete en hande is versier met kloue. Haar gesig is gevorm deur twee teenoorstaande slange. Volgens legende is haar kop afgesny tydens ’n offererande en die bloed wat uitgespuit het, het die twee slange gevorm. Sy verteenwoordig die aarde as beide die baarmoeder en die graf. Esteties is al die oppervlaktes dekoratief met patrone versier.
COATLIQUE, 15DE EEU, STEEN
Hierdie masker is glo ’n verteenwoordiging van die god Tezcatlipoca, een van die Asteek- skeppergode. Die basis vir hierdie masker is ’n menseskedel. Afgewisselde stroke turkoois en lignietmosaïek bedek die voorkant van die skedel. Die oë is gemaak uit twee skywe van ysterpiriete wat in kringe, wat uit skulp gemaak is, geset is. Die agterkant van die skedel is weggesny en met leer omlyn. Die kakebeen kan beweeg en is aan die leer vasgeheg.
DIE SKEDEL VAN DIE ROKENDE SPIEËL , 15DE EEU TOT 16DE EEU, MOSAÏEK