Die driehoekige komposisie wys hierdie groep van drie figure inmekaargestrengel deur die slange wat hulself om die mense se arms en bene draai. In hierdie toneel lyk dit asof die vader meer lyding en pyniging verduur as sy twee jong seuns. Die dramatiese effek van sy gespierde lyf met die sterk diagonale lyne wordgeskep deur die plasing van die arms en bene en die gepynigde gesigsuitdrukking is die fokuspunt van die komposisie. Dit beklemtoon die tragiese lyding wat die gode as straf uitdeel. Die komposisie word gebalanseer deur die twee seuns aan weerskante van die priester. Die seun aan die linkerkant is na aan sy dood. Sy sagter figuur kontrasteer met die gespanne beweging van die ander twee. Die kontras tussen die tekstuur in die kleding en die hare in vergeleke met die gladder veltone dra by tot die ekspressiewe kwaliteite van hierdie beeld. Deurdat die beeld aan die einde van die Griekse Ryk geskep is, kan hierdie groep ook gesien word as ’n offer wat die val van Troje en die vestiging van die Romeinse Ryk simboliseer.