Die wyse waarop Preller die warm bruine, oker en geel met sy fyn, ietwat getekstureerde kwashale kombineer saam met sy dinamiese gebruik van skakeringsnuanses, verleen aan die klein Gold Primavera die kwaliteit van ’n juweel. Die antieke gevoel van die portret word versterk deurdat die goud om die rande, en ook plek- plek binne die portret, geskilder is om te lyk asof dit afskilfer. Die vorms wat gebruik word om die effek van veroudering te skep, lyk soos abstrakte simbole wat binne die portret ronddryf.
’N HOUTSNEE HOOF VAN KENIA WAT DEEL WAS VAN PRELLER SE VERSAMELING
AFRIKA HOOF, 1953, OLIE OP HOUT, 51 × 41.5 CM
Die onderwerp van die portret is die koms van die seisoen van hergeboorte en word hier deur die Grieks-Romeins geïnspireerde vroulike godin voorgestel. Tog bly die portret verwant aan Preller se Afrika herkoms. Die stilering van die kop, oë, neus en mond hou verband met sy interpretasie van Afrikavroue. Dit is nie ’n uitbeelding van ’n spesifieke persoon nie, maar is eerder ’n vereenvoudigde tipe van ’n vroulike portret. Dit wil voorkom asof sy die geïdealiseerde beeld van die antieke Afrikaskoonheid, soos deur Preller ervaar, is. Deur die herhaalde gebruik van die Primavera, skep Preller ’n prototipe, ’n oorspronklike weergawe, van hierdie ewige godin. Deur die herhaling transformeer sy tot Preller se eie heilige beeld, gelykstaande aan die ikone wat in Oos- Europa van die Maagd Maria gemaak is.
In sy werk kombineer Preller argetipe vorms en bied dit in ’n poëtiese styl aan. Terselfdertyd beklemtoon hy ook die interaksie tussen die wêreld van die verbeelding en die realiteit.