Soortgelyk aan die geïllumineerde manuskripte van die tyd, is die ontwerp van die Bayeux-tapisserie liniêr – met geen verwysings na driedimensionele ruimte in die agtergrond nie. Die storie lees soos ’n boek van links na regs, alhoewel daar sekere gebeure is wat meer aandag vereis. Hier het die illustreerder die toneel van regs na links uitgebeeld en om verwarring te voorkom, is dit apart van die stroom van die hoofverhaal. Die toneel wat die dood van Edward die Beleier uitbeeld, is ’n voorbeeld hiervan. Binne die mure van sy kasteel, word hy op sy doodsbed uitgebeeld met ’n priester aan die een kant, Harold aan die ander kant en sy rouende koningin en haar hofdame aan die voet van die bed. Die inskripsie sê “Koning Edward in sy bed terwyl hy praat met sy getroue volgelinge”. Onderaan hierdie toneel is die woorde “hier het hy gesterf” en onderaan dit word die voorbereiding van die liggaam om dit te begrawe uitgebeeld. Hierna is daar ’n begrafnisprosessie na “die kerk van St Petrus die Apostel” wat deur monnike omring word wat gebede lees en ook twee assitente wat begrafnisklokke lui. Die hand van God daal neer in seën.
Die uitbeelding van mense en voorwerpe is baie eenvoudig en somtyds naïef, maar die hele werk skep die indruk dat die doel daarvan is om ’n storie te vertel. Die geheeleffek is daarvolgens belangriker as kleiner oordadige detail, wat uitgelaat word. Soos ’n goeie storieverteller weet, begin hierdie verhaal stadig en bou dit op tot ’n aksiebelaaide einde. Elke toneel volg op die ander een sonder om die kyker te steur. Die dokumentêre en historiese inligting wat in hierdie werk uitgedruk word, is akkuraat en dra by tot die waarde wat op hierdie kunswerk geplaas word as ’n bron van die manier van lewe tydens die 11de eeu.
DIE TONELE WAT EDWARD SE DOOD EN BEGRAFNIS UITBEELD IS OMGERUIL. AAN DIE LINKERKANT WORD HAROLD DIE KROON EN DIE BYL AANGEBIED, WAT SIMBOLE VAN KONINKLIKE MAG IS. HY AANVAAR HIERDIE VOORWERPE, ALHOEWEL HY WEET DAT EDWARD WOU HÊ DAT WILLIAM SY PLEK OP DIE TROON MOES INNEEM.
6.4
Voltooi in jou V.K.S.-werkboek.
Die Bayeux-tapisserie is beskryf as een van die wêreld se eerste strokiesprente. Stem jy saam met die stelling?