SANDRO BOTTICELLI, THE BIRTH OF VENUS, 1482. TEMPERA
Botticelli was ’n liriese skilder. Die tema van sy werk is gebaseer op ’n klassieke mitologiese allegorie van die geboorte van Venus, godin van liefde. Zefir en Chloris vlieg met hulle ledemate vervleg. Zefir, die westewind, blaas driſtig, terwyl die mooie Chloris sagkens die warm asem uitsug wat Venus op die skulp meevoer na haar Heilige Eiland van Siprus, waar die nimf Pomena (’n afstammeling van die godin van vrugtebome) wag om haar met ’n mantel te bedek.
Reg rondom die twee figure aan die boonste linkerkant, val rose – elkeen met ’n goue hart – wat, volgens legende, tot stand gekom as gevolg van Venus se geboorte.
Vir die eerste keer vanaf die klassieke beskawings, word ’n naakte vrou uitgebeeld. Gedurende die Middeleeue is net hande, voete en gesigte toegelaat. Venus, gewigloos en verhef bo die aardse, is ’n intellektuele en spirituele uitdrukking van skoonheid.
Die komposisie is gebaseer op ’n halfsirkel wat deur Zefir aan die linkerkant gevorm word; die kop van Venus; haar waaiende hare; en die nimf wat die mantel met haar opgeligde arm vashou. Die kurwes van die skulp en die Zefir se vlerke herhaal hierdie halfsirkel.
Beweging van lyn is kenmerkend van hierdie werk. Daar is kontraste tussen die waaiende, fladderende lyne van die drapering en die golwe, die horisontale seelyn en die vertikale boomstamme. Botticelli het wegbeweeg van godsdienstige temas in hierdie uitbeelding van ’n mite.
VISUELE KUNSTE 2011
WOORDELYS ALLEGORIE is wanneer betekenis simbolies verteenwoordig word in skilderye, toneelstukke, gedigte, ens.
Die meesterlike gebruik van lyn, uitstekende komposisie, die briljante deursigtigheid van die velkleure en die uitbeelding van die materiaal is kenmerkend van hierdie werk deur Botticelli.