Arachne is ’n werk wat sy in 1996 geskep het. Sy skilder die figuur van ’n vrou, alleen in die donker, met haar kop vooroor gebuig. Volgens die buitelyne van die figuur is sy moontlik swanger, maar dit is nie verseker nie. Haar kop is heeltemal kaal. Dit is deur haar ontblote borste dat sy as vrou herkenbaar is, nie deur haar gelaatstrekke, wat ook die van ’n man kon gewees het, nie. Die kop is ’n vleeskleurige pienk en ondeurskynend. Haar donker oog is van die kant sigbaar en lyk geswel. Die oor is net ’n holte, asof die beskermende oorskulp verdor het. Agter op haar nek is kort, getekstureerde kwashale, in drie of vier gryserige kleure aangebring. Dit skep die indruk van pels of selfs skubbe. Hierdie getekstureerde area eindig net onder haar skouer. Van hierdie rand hang lengtes grys tou wat in lusse geknoop is. Die lusse hang ook buite die skildery af, asof sy vasgebind word deur iets in die ruimte waarin sy haarself bevind. In haar groot, lomp hand, hou sy een klein lussie vas en van haar ontblote borste hang daar twee lussies, in plaas van tepels. Die moontlik swanger buik is deursigtig.
In die Griekse mite van Arachne is sy ’n sterflike Lidiese meisie wat oor buitengewone weef- en borduurvaardighede beskik. Baie arrogant vertel sy vir almal dat sy nie haar vaardighede aan Athene, beskermvrou van alle spinners, wewers en borduursters, te danke het nie. Sy spog ook dat sy beter kan weef as die godin Athene. Hoewel Athene haar vererg, verskyn sy aan Arachne as ’n ou vrou en probeer haar oortuig om meer beskeie te wees, maar die meisie beledig haar net verder. Woedend, vertoon Athene haar ware self aan Arachne. Die meisie daag haar uit tot ’n kompetisie. Arachne se tapisserie is perfek, maar haar onderwerp is die buite-egtelike verhoudings van die gode, terwyl Athene hulle as goddelike wesens sonder foute uitbeeld. Arachne se oneerbiedige houding, asook die feit dat haar tapisserie beter was as die van Athene, dryf die godin tot raserny. Sy vernietig nie net Arachne se tapisserie nie, maar gooi ook haar weefspoel in haar gesig. Arachne besluit om selfmoord te pleeg omdat sy nie kans sien om onder sulke omstandighede verder te lewe nie. Terwyl sy probeer om haarself op te hang, red Athene haar van hierdie dood deur die toue in sydrade te verander en Arachne in ’n spinnekop.
Met hierdie mite as agtergrond, is daar verskeie interpretasies van hierdie werk. In die geheel beskou, is daar spesifieke onderwerpe wat beklemtoon word en wat herhaaldelik in Mason se werk voorkom. Sy verwys gereeld na lyding en eensaamheid. Die pikswart agtergrond wat die eensame, blootgestelde figuur van Arachne omring, word as ’n soliede massa voorgestel. Dit lyk asof sy besig is om te transformeer. Die lusse, wat haar poging tot selfmoord voorstel, word hier deel van haar kreatiwiteit, omdat sy steeds kan spin en weef, al is dit spinnerakke. Maar dit is ook simbolies van die toestand waarin sy nou vasgevang is.
Die dualiteit van Mason se verſtegniek – sag met deursigtige en ondeursigtige areas; lig wat met algehele donkerte kontrasteer en ’n figuratiewe styl wat uit die kunstenaar se verbeelding kom – ontlok simpatie by die een wat na die skildery kyk. Die kontras van teenoorgesteldes soos Skoonheid en Onaansienlikheid is ’n element wat in baie van haar werk aanwesig is. Dit hou verband met die teenstelling van die emosionele en die rasionele, soos die Griekse mitologie van Apollo en Dionisus. Hierdie dualiteit word deur Mason op verskeie maniere uitgebeeld. Hier word dit gesien in die uitbeelding van die misvormde menslike figuur wat sensueel geskilder is. Alhoewel die mite teen te veel selfversekerdheid en die belediging van die goddelike wêreld van die gode waarsku, lyk dit nie asof Mason hier noodwendig die outoriteit van die gode bevestig nie. Sy wil eerder dat ons moet kyk na die invloed van gesag op die mens se lewe.