DOEN NAVORSING OOR DIE VERSKILLENDE VORMS VAN VASE EN HULLE GEBRUIKE.
• Kies drie vase van verskillende vorms wat in drie verskillende style versier is.
• Bespreek die funksies van elke vorm.
• Bespreek die versiering op elke vaas. Wat word uitgebeeld? Kyk na die komposisie. Is die vaas slegs in patrone versier? Hoe komplimenteer die dekoratiewe patrone die figuratiewe tonele? Wat is die boodskap van die figuurlike tonele? Is daar ’n verband tussen die skildery op die vaas en sy doel?
• Vergelyk die verskillende style van die skilderye op die vase. Hoe het dit verander?
DIE ARGAÏESE TYDPERK: KOUROS VAN TENEA
Die eerste monumentale vrystaande beelde het verskyn in die vroeë fases van die Argaïese tydperk. Die meeste was van seuns wat as kouros bekend gestaan het en van jong geklede dames wat as kore bekend gestaan het. Dit is nie altyd duidelik waarom die beelde geskep is nie. Sommige van hierdie figure was grafeelde terwyl ander in heiligdomme gevind is waar hulle as offerandes vir die gode geplaas is. Hierdie figure het nie spesifieke mense of gode voorgestel soos die beelde van Mesopotamië en Egipte nie. Hulle het eerder die idee van jeugdigheid en energie voorgestel, ’n lewensfase wat mense vir slegs ’n kort rukkie ervaar, maar wat die gode ewigdurend ervaar. Die gebruik van jeug as ’n onderwerp en die feit dat mense al meer in ’n natuurlike styl uitgebeeld is, het daartoe gelei dat Argaïese kunstenaars jong seuns en dames op ’n idealistiese wyse uitgebeeld het.
Atlete wat aan die spele by Olimpia deelgeneem het, was alleenlik mans, en hulle het naak deelgeneem. Hierdie byeenkomste was deel van die rituele ter ere van die gode. Die rede vir die naaktheid is omdat daar vroeër geglo is dat aanbidding sonder klere wys dat die persoon sonder enige wêreldse besittings is.
KOUROS C. 590-580 V.C Hierdie geloof kan in
verband gebring word met die uitbeelding van naakte seuns. Die jong mans het ook selfvertroue en trots verteenwoordig wat met die fisiese voorkoms geassosieer is in ’n gemeenskap waar manlike krag en aantreklikheid voortdurend bewonder en verheerlik is.