Hierdie weergawe van ’n jeugdige Christus in die apsis trek aandag na die oorsprong van die gebou. Biskop Eklesius, die stigter van San Vitale, word ver regs uitgebeeld en gee ’n skaalmodel van die kerk aan Christus en op die verste linkerkant is St Vitales, vir wie Christus die martelaar se kroon gee. Aan Christus se kante is twee engele en Hy sit op die bol van die wêreld wat in ruimte hang. Sy posisie as keiser word verder beklemtoon deur die gebruik van die adellike pers kleur van sy kleed. Onder Sy voete is die vrugbare veld en die vier riviere van die paradys.
DIE BINNEKANT VAN SAN VITALE WAT NA DIE APSIS WYS
DIE MOSAÏEK IN DIE HALFKOEPEL VAN DIE APSIS VAN SAN VITALE
Op die laer mure, word die keiser Justinianus uitgebeeld terwyl hy ’n offerande gee tydens sy ’n opvolg. Dit word beklemtoon dat hy die leier van die kerk is deur hom uit te beeld terwyl hy die houer met brood dra en sy vrou die goue beker vir wyn vashou, wat simbolies die seremonie van Nagmaal uitbeeld. Justinianus en die keiserin Teodora het stralekranse wat aan hulle semi-heilige status gee – met verwysing na die vroeë Romeinse keisers. Die keiser Justinianus word deur staatsoffisiere vergesel en ook deur kerkoffisiere, insluitend die biskop Maximiamus. Daar is ’n groep lyfwagte aan die linkerkant en een hou ’n skild met die chi-rho monogram daarop vas. Die keiser staan effens agter die biskop, maar sy arm wat die houer met die brood vashou, oorvleuel met dié van die biskop. Hierdie dubbelsinnigheid van die posisie verwys na die balans van kerklike en imperiale magte.
DIE KEISER JUSTINIANUS EN TWAALF KNEGTE – SIMBOLIES VAN DIE TWAALF DISSIPELS.