Doen navorsing oor die stories wat aan die verskillende gode verbind word. Watter een is vir jou die interessantste? Kry ’n kunswerk wat die god of die storie uitbeeld en plak dit in jou werkboek. Vertel die storie in jou eie woorde en verduidelik waarom dit aanklank by jou vind.
3 Die Karakter en Gebruike van Egiptiese Kuns
Egiptiese kuns was hoofsaaklik funksioneel omdat dit vir godsdienstige doeleindes geskep is. Soos die kuns van ander antieke nasies, is Egiptiese kuns beïnvloed deur hulle geloof in die towerkuns. Hulle godsdienstige oortuigings het die bestaan van onsigbare, bomenslike kragte beklemtoon. Om in staat te kon wees om die positiewe invloede van hierdie kragte te kon benut of om hulle vyandigheid te kon beveg, was dit nodig om dit sigbaar te maak deur dit uit te beeld. Die weergawes van die magte is goddellike mag gegee tydens rituele en is beskou as ’n ewige weergawe van die god, die persoon, voorwerp of gebeurtenis. Versierde grafelders en sarkofae is spesifiek vir die dood en die lewe daarna geskep. Die ewige gees, ka, moes in ’n skildery of beeldhouwerk uitgebeeld gewees het om daarheen te kon terugkeer indien die mummie heeltemal sou disintegreer. Priesters het ’n invloed gehad oor wat en hoe kunstenaars godsdienstige beelde sou uitbeeld. Kunstenaars, wat as vakmanne beskou is en in groepe gewerk het, het alles op ’n naturalistiese manier uitgedruk, maar volgens ’n stel reëls. Hierdie reëls is beskou as die standaarde vir skoonheid, waardigheid en die etiese houding wat die adel en die gode sou pas. Kunstenaars is geforseer om die reëls van ’n gestandaardiseerde idealisasie van die menslike figuur te volg. Hulle is geforseer om nie enige persoonlike interpretasies of tonele wat ’n onmiddellike oomblik weerspieël het, weer te gee nie. Kuns is veronderstel om die ewige waarhede uit te druk en alles was veronderstel om vir altyd te duur. Die struktuur van kuns is gebaseer op ’n wiskundige raamwerk wat verband hou met die Egiptenare se begrip van die heelal as ’n kubieke spasie. In tweedimensionele uitdrukkings, soos reliëf en muurskilderye, is die werklikheid in twee dele verdeel. Die menslike figuur, ook gebaseer op ’n rooster-patroon, is uitgebeeld deur ’n kompromie te tref tussen die vooraansig wat op die oë, ore en bors fokus en ’n kant-aansig wat op die kop, torso en ledemate fokus.
WOORDELYS
IDEALISASIE is die verteenwoordiging van onderwerpe, mense of gebeure volgens ’n stel reëls wat ’n gestileerde weergawe van die natuur is en beskou is as volmaaktheid in vergelying met die direkte nabootsing van die natuur.
VISUELE KUNSTE 2011
Alle figure is in ’n ordelike simmetriese manier in stroke of registers geplaas met menslike figure gewoonlik op die onderste lyn van ’n komposisie. Beeldhouwerk en reliëf was die belangrikste vorme van kuns. Skilderkuns is hoofsaaklik gebruik om tweedimensionele weergawes aan te vul. Beeldhouwerke is ontwerp om van vooraf besigtig te kon word. In vroeë beeldhouwerke is daar nie ’n poging aangewend om ’n hele driedimensionele figuur te skep nie. Namate die beelhouwerk-figuur al hoe meer ’n vervanging vir die ware figuur was, het kunstenaars later hierdie vaardigheid en tegniek ontwikkel. Hiërogliewiese skrif het ’n integrale deel van alle versiering gevorm. Hierdie manier van prentskrif is gewoonlik gebruik op koninklike monumente en belangrike godsdienstige kunswerke en nie vir administratiewe doeleindes nie. Dit is ’n versameling beelde waarvan sommige verwant is aan naturalistiese vorms en ander wat die klank van ’n woord uitbeeld.