Figuratiewe uitbeeldings van mense is vermy in Islamitiese godsdienstige kuns, maar in sekulêre kunswerke was mense en diere sentrale figure. ’n Vroeë voorbeeld van ’n fresko- vloerskildery in Sirië wys musikante wat onderaan boë staan in die boonste strook van ’n register en ’n perderuiter wat bokke onderaan dit jag. Die figure word uitgedruk in ’n naturalistiese styl deur die gebruik van gedefinieerde buitelyne. Daar is nie enige verwysings na ruimte in die agtergrond nie en aangesien die funksie van die vloerskildery waarskynlik dekoratief was, soos ’n mat sal wees, is die skep van driedimensionele diepte nie as belangrik beskou nie.
Die draagbare kuns van illuminasie was ook gewild in die Islamitiese wêreld. Dit het hoofsaaklik in Irak en Iran ontwikkel waar Persiese heersers kalligrafeerders en kunstenaars in hulle howe onderhou het. Kunstenaars het die vryheid gehad om menslike figure binne sekulêre kunswerke soos illuminasies te interpeteer.
WOORDELYS
ILLUMINASIE is die versiering van ’n teks, bladsy of hoofletter met ornamentele ontwerpe en miniature.
LAILA EN MAJNUN VERLIEF BY DIE SKOOL. MINIATUURSKILDERY VAN ’N MANUSKRIP VAN DIE KHAMSA VAN NIZAMI, 1524 – 1525
’n Voorbeeld van die werk van die kunstenaar AqaMirak illustreer die gewilde onderwerp van die romantiese gedig oor Laila en Majnun wat uit 1524 – 1525 dateer. Die toneel beeld ’n skoolklaskamer in ’n moskee uit. In die agtergrond sit die ouer onderwyser op ’n mat, met ’n staf in sy hand en luister terwyl ’n student besig is om te lees. In die res van die kamer is meer studente besig om te studeer, maar as daar van naderby gekyk word, is daar sommige leerders wat nie aandag aan hulle studies gee nie. Ver weg van die onderwyser af, in die voorgrond, trek ’n seun ’n ander een se oor.
VISUELE KUNSTE 2011
’N FRESKO-VLOERSKILDERY IN QUASR AL-HAYR AL GHARBI, SIRIË, C. 730