Die geografiese posisie van Egipte het bygedra tot die sukses van hierdie antieke kultuur. Die land word omring deur woestyn aan drie kante met die Meditereense See aan die ander kant. Die Nylrivier was die primêre bron van lewe vir die Egiptenare, en die res van die land was relatief ontoeganklik vir aanvalle deur ander nasies as gevolg van die enorme woestyn. Ten spyte hiervan, was Egipte nie afgesonder nie, aangesien die land op pad is na en vanaf Asië, die Mediterreense lande en sentraal- Afrika. Egipte is in twee streke verdeel. In die suidelike deel, omring hoë klowe en woestyne ’n nou, vrugbare deel, Bo-Egipte. Die noordelike deel, Laer Egipte, is breed en plat. Alle landbou is afanklik van die jaarlikse oorvloeiing van die Nylrivier tydens die monsoen-reënseisoen in Ethopië, want reënval vind min in Egipte plaas. Die jaarlikse oorstroming vind gedurende Januarie en Oktober plaas en is beskou as ’n geskenk van die gode en ’n bevestiging van hulle sterk geloof in die siklus van die lewe en die dood as ’n onvermydelike deel van die Egiptenare – soos deur die gode beveel. Tydens prehistoriese tye het mense in klein, aparte groepe langs die oewer van die Nyl gewoon. Uiteindelik het hulle provinsies gevorm en ook die leierskap aangeneem van ’n absolute monarg wat oor Hoër- en Laer Egipte geheers het. Ten spyte van die samesmelting van die twee gebiede, was daar altyd dualiteit as gevolg van die land se fisiese verskille. Die noordelike area is nader aan Europa en Asië en het ’n vroeër ontwikkeling van gevorderde landboutegnieke getoon, terwyl die suidelike deel gedomineer is deur ’n kultuur van jag en weiding en steeds die poort na Afrika toe is. Die tyd voor Egipte ’n eenvormige land geword het, word die Pre-dinastie periode genoem. Na dit het daar 31 dinastieë gevolg wat in vier hoof-periodes ingedeel kan word: die Ou, Middel, Nuwe en Laat Koninkryke. Die Ptoliamiese en Romeinse periodes het daarna gevolg.
In beheer van die Egiptiese samelewing was die heerser, naamlik die Farao. Hy het met absolute heerskappy as ’n afstammelling van die god van die son, Ra, geheers. Die Farao was die bemiddelaar tussen die mense en die gode en hy moes slegs rekenskap gee aan die gode en die voorvaders. Die res van die samelewing was in diens van die Farao en die gode. Die Egiptiese samelewing is volgens hiërargie gestruktureer en dit was duidelik opmerklik in mense se kleredrag, haarstyle en bykomstighede. Die hoër posisies in die Farao se groot kontingent van ampenare is normaalweg gevul deur lede van die koninklike familie. Hierdie amptenare en ook ander, het gewoonlik hulle titels aan hulle seuns oorgedra. Dit het uiteindelik tot skeiding tussen die mense gelei, ’n faktor wat bygedra het tot die agteruitgang van die Farao se mag. Nog ’n bydraende faktor tot die verswakking van adellike mag, was die verryking en mag van die priesters wat hulleself as die ware beskermhere van Egipte se tradisies beskou het. Meeste van die mense in Egipte was boere wat op grond gewerk het wat aan die staat of aan die adel behoort het. Kunstenaars en vakmanne het ’n hoër status as boere geniet, maar hulle het ook vir die staat gewerk. Skrywers en amptenare het aan die hoër klas behoort terwyl priesters, dokters en ingenieurs laer as die adel beskou is. Mans en vroue wat nie slawe was nie, was gelyk onder die Egiptiese wet. Hoewel vroue stereotipies as minder belangrik geag is, het hulle dieselfde regte as mans gehad ten opsigte van die besit van eiendom en ander wetlike kwessies, soos trou of skei.
VISUELE KUNSTE 2011
KAART VAN EGIPTE WOORDELYS
DEMOTIESE SKRIF is ’n kursiewe, vereenvoudigde weergawe van hiërogliewe wat deur die Antieke Egiptenare gebruik is.
HIËROGLIEF is die Griekse woord vir Egiptiese skrif. Die Grieke het die simbole op die mure van Egiptiese tempels gesien en dit die naam hiëroglief gegee, wat “heilige tekens” beteken.
FARAO beteken groot huis en het oorspronklik verwys na die koninklike paleis en sy inwoners. Dit is eers later dat die term as ’n respeksvorm gebruik is, en wat na die koning self verwys het.
TYDLYN VAN EGIPTE
Die prehistoriese tyd (tot ca. 3100 v.C., die Arkaïse Periode (ca. 3100-2650 v.C.), die Ou Koninkryk (ca. 2650-2150 v.C.), die Middel Koninkryk (ca. 2040-1640 v.C.), die Nuwe Koninkryk (ca. 1550-1070 B.C.), die Laat Periode (ca. 712-332 B.C.) en die Ptoliamiese en Romeinse Periodes (332 v.C.- 395 n.C.)