Diego Rodríguez de Silva y Velázquez (6 Junie 1599 – 6 Augustus, 1660) was ’n Spaanse skilder wat die voorste kunstenaar aan die hof van koning Philip IV was. Hy was ’n individualistiese kunstenaar uit die Barokperiode, en was belangrik as ’n portretkunstenaar. Behalwe vir sy vele uitbeeldings van tonele van historiese en kulturule belang, het hy groot hoeveelhede portrette vir die Spaanse koninklike familie geskilder, en ook van ander belangrike europese figure, asook van burgerlikes.
Daar is al gesê dat hierdie groot Spaanse skilder enigiets kon skilder wat hy gesien het. Hy het die optiese wêreld uitgebeeld – dit wat hy gesien het. Hy is ook bekend vir sy ongelooflike tegniek en die menslikheid van sy figure. In hierdie werk, word hy uitgebeeld terwyl hy werk op ’n groot doek, omring deur lede van die Spaanse hof. Die spieël weerkaats die koning en koningin. In die middel val die lig die sterkste op die skitterende figuur van die vyfjarige prinses, die Infanta Margarita. Sy word vergesel deur haar hofdames, twee dwerge (een was Mari Bárbola), ’n non en ’n hond. By die oop deur in die agtergrond, val lig op ’n hofamptenaar. Die skildery lei tot spekulasie oor die verhouding tussen werklikheid en visuele beeld. – het die koning en koningin die kamer binnegekom en dieselfde toneel as die kyker gesien? of is Velazquez se portret van hulle weerkaats in die spieël en is hy deur die Infanta onderbreek?
Hierdie dubbelsinnigheid is tipies van Velazquez se fassinasie met lig. terwyl Rembrandt geïnteresseerd was in die geheimenisse van lig en donker, was Velazquez betrokke by optiese illusies. ’n eindelose verskeidenheid direkte en weerkaatsde lig word uitgebeeld en die kyker moet hierna soek. Vergelyk die spieëlbeeld van die koninklike paartjie met die geskilderde portrette teen die muur en die uitbeelding van die amptenaar in die oop deur.
Velazquez was nie geïnteresseerd in die uitbeelding van bewegende figure nie, maar in die beweging van lig – die eindelose moontlikhede van lig op kleur en waarde. Vir hom het lig die sigbare wêreld uitgebeeld. Sy verf- aanwending beweeg van dun na dik kwashale. Die kwaswerk is lewendig, en die aanmerking is gemaak dat “’n mens dit nie kan verstaan as ’n mens te naby daaraan staan nie, maar vanaf ’n afstand is dit ’n wonderwerk”. Sy kwashale het ’n oortuigende portret van tekstuur geskep, bv. kant, satyn en fluweel. Sy kleure gloei met ’n Venesiese rykheid.
DIEGO VELAZQUEZ, LAS MENINAS (THE LADIES IN WAITING), 1656. OLIE OP DOEK