Die Grieke het nie die Mesopotamiese en Egiptiese voorbeeld gevolg ten opsigte van die skep van kuns, literatuur en wetenskap nie. In al hulle aktiwiteite, soos bv. optogte, spele en oorloë, is die rol van die individu hoog geag. Konings, priesters en amptenare is as gewone mense beskou, soos die res van die gemeenskap. Hulle het nie die goddelike status ontvang soos in ander kulture nie. Deur die eeue het die stad-state wat rondom die Griekse skiereiland versprei is, ’n wye verskeidenheid van regerings gehad as gevolg van ’n gebrek aan eenheid en ’n gemeenskaplike sisteem.
HIERDIE RELIEF VAN DIE GODE ZEUS EN HERA, REGS, EN HUL KINDERS
HEPHAISTOS EN ATHENA, IS ’N FRIES VAN DIE PARTHENON. HULLE IS DEEL VAN ’N OPTOG WAARIN ATHENA DIE HEILIGE KLEED MOET ONTVANG. HUL MENSLIKHEID WORD BEKLEMTOON DEUR HUL ONTSPANNE HOUDINGS
Die gedurige ekonomiese en sosiale veranderinge het gelei tot die geleidelike verandering van geloof. Die geloof in die tradisionele godsdiens het verander na ’n filosofiese, wetenskaplike en rasionele verduideliking van die wêreld, soos gebaseer op waarneming. Die ontwikkeling van die Griekse kultuur is gebaseer op die houding om alles te bevraagteken. Die Grieke het ’n ideaal van uitmuntendheid nagestreef wat gebasseer was op wette van die natuur en die rede. Menslike intelligensie, en dus die mens, was die sentral punt in hierdie filosofie van uitnemendheid, terwyl hul daarna gestreef het om in harmonie met die natuur en die rede te leef.
Terwyl die gelowe in Suidwes-Asië se gode bestaan het uit ’n kombinasie van menslike en dierlike kwaliteite, was die Griekse gode antropomorfies. Die Griekse geloof is ’n manifestasie van die Grieke se strewe na die volmaaktheid aangesien die gode volmaakte wesens was wat natuurlike kragte verteenwoordig het. Die onsterflike gode het die menslike vorm aangeneem en het sekere swakhede gehad wat vir mense bekend was.
Omdat die Grieke die volmaaktheid nagejaag het, verduidelik dit hulle beheptheid met atletiek as ’n manier om ’n perfekte liggaam te ontwikkel. Die twaalf belangrikste manlike en vroulike gode het elk hul onderskeie persoonlikheid en gebied gehad. Hulle verhouding met mense, hul oorsprong en hul karakter was in Griekse mites (stories oor gode) beskryf. Hulle het glo in die middel van Griekeland, op die hoogste berg, Olympus, gebly. Die verhouding tussen die mense en die gode was gebaseer op ’n omruilkonsep. Die mense het geskenke in die vorm van offergawes gegee en die gode moes die gebede beantwoord.
VISUELE KUNSTE 2011 WOORDELYS
ANTROPOMORF is vermensliking; om ’n menslike vorm aan ’n god, dier of lewelose ding te gee.