WOORDELYS: die woord medium (meervoud is media) verwys na die materiaal wat gebruik word om ’n kunswerk te maak. (Dit kan ook verwys na die vloeistof-bestanddeel van ’n verf, bv. water, lynolie, ens.)
Die kunstenaar het ’n manier nodig om sy of haar idees uit te druk. Hy of sy het gewoonlik ’n idee watter medium om te gebruik voor dit gekies word. Die kunstenaar leer deur ondervinding waartoe ’n spesifieke medium in staat is. Indien die kunstenaar ’n landskap wil uitbeeld, sal hy of sy oorweeg watter medium die kwaliteite van lig, atmosfeer en tonale waardes die beste uitdruk. ’n Kerwing in steen sal nie aan hierdie vereistes voldoen nie en die kunstenaar sal dan eerder ’n tweedimensionele medium soos olieverf of waterverf gebruik om die kwaliteite van ’n landskap weer te gee. Indien die kunstenaar egter ’n kommissie ontvang om ’n duursame werk ter verering van ’n belangrike persoon te maak, kan ’n marmerstandbeeld ’n beter keuse wees.
Wanneer kunswerke geanaliseer word, moet ’n mens die verhouding tussen die onderwerp en die medium in ag neem om te bepaal of die kunstenaar se intensie suksesvol oorgedra is.
’n Onderskeid word tussen tweedimensionele en driedimensionele media getref.
TWEEDIMENSIONELE MEDIA
MICHELANGELO, THE CREATION OF MAN (DETAIL), 1511 – 12. SISTYNSE KAPEL, FRESKO.
TEKEN Teken is waarskynlik die mees direkte en basiese vorm van alle kuns. Die ‘merke’ wat die kunstenaar maak, weerspieël die beweging en vaardigheid van die arm en die hand.
michelangelo het baie voorbereidende sketse gemaak voor hy die Sistynse kapel aangedurf het.