166 3 Kunsvorme en Tydperke GEOMETRIESE TYDPERK: DIE DIPYLON KOEPELVAAS
Pottebakkery en vaasskilderkuns was die voorste kunsvorms van die Geometriese tydperk wat deur die eeue behoue gebly het. Met die afwesigheid van betekenisvolle voorbeelde van skilderkuns het die versiering van kruike ’n idee gegee van skilderkuns. Die kunstenaars wat die potte versier het, het nie slegs patrone en plantmotiewe gebruik nie, maar het ook begin om mites en tonele uit die alledaagse lewe uit te beeld. Kontak met mense van die Nabye Ooste en Egipte, as gevolg van kolonisasie en handel, het bygedra tot die kunste omdat die Griekse kunstenaars die tegnieke, style en motiewe van hierdie lande gebruik het om hulle eie mites en gewoontes uit te beeld. Die Geometriese tydperk is bekend vir dekoratiewe vorms waar figure van mense en diere gekombineer is. Die eenvoudige styl waarop mense en diere geskilder is, is ook eie aan hierdie tydperk.
Een van die tipies geometriese vase is in ’n begraafplaas in Dipylon ontdek. Dit is ’n 74.2cm hoë terracotta koepelvaas. Sulke groot vase was as grafstene gebruik. Hulle was bodemloos sodat drankoffers deur hulle in die grond geskink kon word. Die figuurlike versierings tussen die herhalende geometriese bande van hierdie koepelvaas dui op die doel van die vaas. In die middel bo-aan, op die wydste band van die vaas, is ’n skildery van ’n man op ’n draagbaar. Hy lê op sy sy en die lykskleed wat hom moet bedek, sodat hy buite sig is, word uitgebeeld as ’n blokkiespatroon wat hom omring. Hy word verder omring deur, eerstens sy familie, en dan deur twee rye mense aan weerskante van hom. Die mense dui hulle verdriet aan deur hulle arms tot bokant hulle koppe op te lig. Al die figure word baie skematies voorgestel deur ’n donker sirkel wat die kop voorstel en ’n enkel kolletjie daarbinne wat die oog voorstel. Die liggame herinner aan Egiptiese figure wat uit ’n driehoek vir die bolyf bestaan en twee vereenvoudigde bene wat aan die kant geteken is. In die band onder die toneel van die treurendes is daar ’n stoet van strydwaens asook krygsmanne met skilde wat soos uurglase lyk. Hierdie toneel kan of ’n uitbeelding van ’n begrafnisstoet wees of dit kan verwys na die oorledene se militêre dade. Dit kan selfs verwys na sy voorouers en tradisies omdat die vorm van die skilde terugdateer na die Bronstydperk wat die Geometriese tydperk voorafgegaan het. Alhoewel die styl van die skildery baie vereenvoudig en onopgesmuk is, dui dit op ’n beweging in die rigting daarvan om uitdrukking te gee aan emosies en ondervindings.
NABY AANSIG VAN BEGRAFNISTONEEL
BO EN ONDER: TWEE AANSIGTE VAN DIE DIPYLON KOEPELVAAS, GESKEP ONGEVEER 750-735 V.C.