Die Romeine kon die kennis wat hulle van ander nasies geleer het, suksesvol orden en toepas. Hul argitektuur en ingenieurskennis was van hoogstaande gehalte, terwyl hul vroeë kuns meestal nabootsend en verbruikersvriendelik was. Met portretkuns en die viering van geskiedkundige gebeurtenisse, het die Romeine hulle eie unieke kenmerke ontwikkel. Romeinse burgerlike leiers het tydens die Republikeinse tydperk asook die Imperialistiese tydperk kuns bewustelik gebruik vir hul politiese agendas. Dit is belangrik om die omstandighede rondom die skepping van herdenkings kunswerke te verstaan sodat mens die doel en betekenis van die mens of mense wat uitgebeeld is, kan verstaan. Die Romeinse heersers het van kunsvorms soos standbeelde, reliëfs, muntstukke of geboue gebruik gemaak om hul oorwinnings en mag te propageer en om sodoende hulle volgelinge te beïnvloed.
Die Romeine se bewondering vir die Griekse kuns en kultuur het oorvleuel met die Hellenistiese tydperk en daarom is baie van die vroeë Romeinse kunswerke direkte nabootsings van die Griekse kunstenaars van daardie tydperk. Die sekulêre en funksionele karakter van die Romeinse kuns het eers later die Griekse karakter van hul vroeë kunswerke vervang. Dit het gebeur as die onderwerp dit toegelaat het, want hul styl is steeds beïnvloed deur die Griekse kuns wat hulle bewonder het.
Soos in ander ou kulture, het meer beeldhouwerk as skilderye behoue gebly. Die materiale wat die Romeine gebruik het, was eindeloos omdat dit vrylik beskikbaar was van die streke wat hulle verower het. Marmerstandbeelde het meer behoue gebly as enige ander en hulle stel gewoonlik ryk en invloedryke mense voor.
Tydens Augustus se bestuur is die Klassieke tydperk van Griekse kuns erken as die hoogste standaard vir kuns. Tydens die Flaviane se bestuur het kuns kleurryker geword. Keiser Hadrian het die lus vir die Griekse kuns weer aangewakker en teen 350 n.C. het die meer gestileerde kuns van die Bisantyne weer die Klassieke realisme vervang.