HAGIA SOPHIA Die Hagia Sophia is vir Justinianus gebou as die kerk vir die keiserlike hof en was gevolglik nie vir gewone gemeenskaplike aanbidding nie. Die twee argitekte van hierdie gebou was Anthemius van Tralles en Isodorus van Miletus, beide afomstig van streke met ’n tradisie van koepels en gewelfde geboue. Aangesien hulle hoofsaaklik bekend was as wiskundiges het hulle die gebou ontwerp volgens geometriese uitgewerkte proporsies.
A KRUISSEKSIE VAN DIE HAGIA SOPHIA – DIE SEMI-KOEPELS EN KLEINER KOEPELS IS DUIDELIK SIGBAAR IN HIERDIE ILLUSTRASIE.
Die vloerplan bestaan uit ’n eenvoudige groot reghoek wat ’n vierkantige ruimte omring. Hierdie groot koepel wat hierdie ruimte bedek is 33 meter wyd en het 40 vensters rondom die onderkant wat die effek van iets wat dryf skep as dit aan die binnekant beskou word. Die koepel word aan die hoeke van die blok ondersteun deur enorme steunpilare. Hierdie deel van die Hagia Sophia verskil van die Panteon, waarop die koepel op ’n soliede drom rus. Die Hagia Sophia se koepel rus op vier sferiese driehoeke of pendentiewe wat uit die groot steunpilare verrys. Hierdie sferiese driehoeke is in werklikheid die oorblyfsels van ’n groter koepel wat ‘weggesny’ is om die halfsirkelvormige boë te vorm. Die sentrale hoek is aan die oostelike en westelike kante van die kerk verleng deur halfsirkels wat deur semi-koepels gevorm is, waarvan elkeen drie kleiner koepels omring, wat drie apsis omring. Die strukturele effek van die gebruik van die koepels is om ’n gevoel van eenheid te skep binne-in ’n struktuur wat uit baie verskillende dele bestaan.