140 8 Met betrekking tot JOHN MUAFANGEJO 1943-1987
Die narratiewe en herdenkingskenmerke van Mesopotamiese kunswerke soos Die Standaard van Ur en die reliëfwerke in die paleis van Ashurnasirpal II, is ’n aspek wat kunstenaars wêreldwyd in verskillende mediums, style en formate beoefen het. Baie kuns vertel stories wat aandag trek, bevat lesse oor geskiedenis en verwysings na tradisionele kultuur en beeld aspekte van die kunstenaar se persoonlikste ondervindings uit. Hierdie aspekte is die kern van die Namibiese kunstenaar John Muafangejo se werke. Sy werk illustreer die idee van hoe narratiewe kuns vanaf antieke tye – moontlik met ander intensies of funksies – voortgeduur het as deel van die moderne lewe. Sy linosnee word wêreldwyd as meesterstukke beskou. Muafangejo het weg begweeg van die stereotipiese Afrika-tradisie (om funksionele kuns te skep wat as herhalend beskou kan word) deur sterk outobiografiese elemente in sy kuns in te sluit. Hierdie eerlike uitbeelding van sy persoonlike gevoelens en emosies druk hy in ’n ekspressiewe styl uit.
Die medium van linosnee is ’n reliëfdruktegniek waar die wit areas van die ontwerp uit die blok gesny word. Ink word by die areas wat oorbly gevoeg en hulle word gedruk om ’n beeld te skep. Die styl wat Muafangejo gebruik het, het gelei tot ’n vereenvoudiging van vorms wat beskryf kan word as ’n naïewe en ekspressiewe weergawe van die werklikheid – wat ’n dieper insig in mense se lewens bring. Tesame met die ekspressiewe manier waarop hy sy ondervindinge uitgebeeld het, het hy ook ’n hoogs dekoratiewe styl in sy linosnee geskep deur die herhaling van lyne en vorms wat dan gelei het tot ’n patroonagtige styl. Met hierdie styl het hy ook ’n sterk ritmiese effek in die kontras tussen swart en wit geskep.
Nes die Duitse Ekpressioniste die verwringing van vorm gebruik om emosies uit te beeld, het Muafangejo se gebruik van lyn bygedra tot die idee dat sy innerlike ondervinding van die werklikheid visueel weergegee word.
Suid-Afrikaanse Kuns
DIERELEWE
AS ’N JONG SEUN MOES MUAFANGEJO BEESTE OPPAS. AS GEVOLG VAN SY ONDERVINDINGS IN DIE VELD HET HY BEWUS GERAAK VAN DIE SKOONHEID – EN OOK DIE GEVAAR – VAN WILDE DIERE, VERAL LEEUS. IN DIE WERK, ’N HERDER, HET HY DIE VERHOUDING TUSSEN DIE MENS EN DIER UITGEBEELD. IN DIE EERSTE PANEEL WYS DIE HERHALENDE PATROON VAN DIE BEESTE DAT HULLE RUSTIG IS EN BESIG IS OM TE WEI. HIERDIE GEVOEL WORD VERSTERK DEUR DIE BESKERMENDE HOUDING VAN DIE HOND EN DIE SWAARGEWAPENDE HERDERSEUN. IN DIE TWEEDE TONEEL IS DAAR ’N KONFRONTASIE MET ’N LEEU TERWYL DIE BEESTE HULPELOSE TOESKOUERS IS. IN DIE DERDE PANEEL WORD DIE LEEU DOODGEMAAK EN DIE STATUS VAN DIE HERDERSEUN VERANDER – HY HET AANVANKLIK SLEGS DIERE BESKERM, MAAR NOU MAAK HY ’N DIER DOOD EN IS GEVOLGLIK MEER VAN ’N MAN. MUAFANGEJO SE SUBTIELE WAARNEMING VAN DIE GEDRAG VAN DIERE WORD OOK UITGEBEELD IN DIE HOND SE LIGGAAMSTAAL. IN DIE TWEEDE PANEEL KRUIP DIE HOND WEG, MAAR IN DIE DERDE PANEEL IS HY BRAAF GENOEG OM DIE LEEU TE NADER.