128 MESOPOTAMIË – GEBOORTEPLEK VAN DIE BESKAWING 1 Die Mesopotamiërs:
waar, wanneer en wie?
Die naam Mesopotamië is deur die Grieke gegee as beskrywing vir die gebied tussen die Tigris- en Eufraat-riviere. Die woord “mesos” wat “middel” beteken en die woord “potamos” wat “rivier” beteken is saam gevoeg. Vandag staan Mesopotamië as Irak bekend. Hierdie vrugbare strook land is ook die “Vrugbare Sekelmaan” genoem, wat verduidelik waarom die antieke mense hierheen getrek het en hulle in hierdie steek vanaf 8000 V.C. gevestig het. Die tyd was die begin van ’n nuwe fase in die mens se geskiedenis aangesien hulle nie meer voedsel versamel het nie, maar dit self begin kultiveer het deur boerderye met verskillende oeste te gebruik en deur sekere diere mak te maak. Hierdie verandering is deel van die proses wat mense beskou as die begin van die idee van ’n beskawing. Teen ongeveer 6000 v.C. het die inwoners begin om besproeiing te gebruik in plaas daarvan om op reën staat te maak. Die hoogs georganiseerde Sumeriese samelewing het teen ongeveer 3500 v.C. in hierdie streek gewoon. Die beskawing het hoofsaaklik ontstaan omdat boere ’n oorskot van kos vervaardig het. Dit het party mense die geleentheid gegee om hulle nie net op kosvervaardiging toe te spits nie, maar om beter boerderytegnieke soos besproeiing, die gebruik van die wiel en die ploeg te ontwikkel. Daarom het hierdie gemeenskappe baie groter geword. Mense het begin om hulself in groepe te verdeel wat verband gehou het met belangrike aspekte van hulle samelewing, soos godsdiens, leierskap en arbeid. Regering, wette en formele godsdiens het ook bygedra tot die ontwikkeling van skryf, meetinstrumente, metaalwerk en keramiek. Geld het begin om die tradisionele stelsel van die uitruil van produkte te vervang. Op sy beurt het dit gelei tot die bewussyn van die skep en bestuur van rykdom as gevolg van die ophoping van besittings en geld.
Die eerste Sumeriese stede was stadstate en gevolglik polities onafanklik. Stede was apart en was nie geïntegreer om ’n koninkryk te vorm wat deur ’n sentrale leier beheer is nie. Daar was ongeveer 11 onafanklike stede en hulle het gereeld oorlog met mekaar gevoer ten spyte daarvan dat hulle dieselfde taal en kultuur gedeel het.
Die Sumeriërs is ook bekend daarvoor dat hulle ’n stelsel van gode ontwikkel het waarvolgens die verhouding tussen sterflike mense en gode gedefinieer is. Hulle het ook ’n vorm van skryf, wigskrif, ontwikkel. Belangrike gebeure is aangeteken om mense te herinner aan wat gebeur het, en so is die geskiedenis bewaar. Die ontdekking van skryf het die ekonomiese ontwikkeling van hierdie beskawing versnel.
VISUELE KUNSTE 2011
’N TERRACOTTA-KEËL MET INSKRYWINGS IN WIGSKRIF WAT DIE HEERSER
URUKAGINA SE VOORWAARDES VIR BELASTINGVERMINDERING EN DIE BEEÏNDIGING VAN UITBUITING AAN TE TEKEN. VAN TELLO, VROEË DINASTIESE PERIODE III, 24 STE EEU V.C.
Die suidelike dele van Mesopotamië was onder die beheer van die Sumeriërs vir meer as ’n duisend jaar. Gedurende hierdie tyd het hulle die basis van die hele Mesopotamiese kultuur gevestig. Na 2400 v.C. het die Akkadiërs die Sumeriërs oorweldig, maar hulle beheer oor Mesopotamië was van korte duur. Die Amoriete van Babilon was ’n groep Semitiese mense wat die chaos onder beheer gebring het en so die ondergang van die Akkadiese Ryk teweeg gebring het. Hieruit het die Ou Babiloniese Ryk ontwikkel.