DIE ANTIEKE ROMEINE – WÊRELDOORWINNAARS EN MEESTERS VAN PROPAGANDA
1 Romeinse Agtergrond
Die Romeine het oorspronklik gebly in die gebied wat ons vandag as Italië ken. Net soos vir die Grieke, was die feit dat hul vrye toegang tot die see gehad het, deurslaggewend vir die uitbreiding van die Romeinse handel, asook hul kolonialisering van ander dele. Die vroeë bewoners van die gebied was die Villanoviane wat vanaf 1000 v.C. daar gebly het. Die Etruskane het teen 700 v.C uit hulle kultuur ontwikkel en dit het tot omtrent 100 v.C. geduur. Die Romeinse kultuur het daarna uit die Etruskaanse kultuur ontwikkel.
Die Romeinse era kan in twee periodes van politieke organisasie verdeel word. Die eerste periode staan bekend as die Republikeinse periode en het bestaan uit twee klasgroepe. Die een groep was adelikes. Hulle was aristokrate wat eiendom besit het en wat politieke regte gehad het. Die meerderheid van die bevolking het tot die laer klas behoort en het as plebejers of plebs bekendgestaan. ’n Vorm van demokratiese organisasie is ontwikkel, maar dit het tot niet gegaan toe die militêre generaals, wat die mag moes oorneem tydens ’n tyd van krisis, geweier het om die mag weer prys te gee. ’n Reeks burgeroorloë was die uiteinde hiervan.
In 27 v.C. het Octavian, later bekend as Augustus, die mag oorgeneem. Hy het geen mededingers gehad nie en het al die mag op homself gesentreer alhoewel hy voorgegee het dat hy die Republikeinse regeringsvorm erken. Dit was die begin van die nuwe era van die prinsipaat, of die Imperialistiese tydperk, waartydens die leiers van Rome verskeie variasies van diktatorskap beoefen het. Danksy die heerskappy van die keiser, was die land meer stabiel en kon die Romeinse gebied stelselmatig uigebrei word. Teen 117 n.C. het die Ryk sy hoogtepunt, in terme van gebiedsuitbreiding, bereik. Die Ryk het egter verswak toe die pes uitbreek en ’n paar onbevoegde heersers mekaar opgevolg het. Om meer beheer uit te oefen, het Diocletian die bestuur van die Ryk in twee gedeel.
VISUELE KUNSTE 2011
Hierna kon Konstantyn die Romeinse Ryk onder sy gesag herenig nadat hy sy mededingers oorwin het. Hy het die Christelike geloof wettig verklaar en die hoofstad van die Romeinse Ryk vanaf Rome na Konstantinopel geskuif. Na Konstantyn se heerskappy, is die Ryk in Oos en Wes gedeel. Dit het gelei tot die algehele verval van die Ryk.