Drukkuns is ’n kunsvorm wat vervolmaak is deur Japannese kunstenaars. Aan die begin van die 17de eeu in Japan was daar ’n ontwikkeling van kunsvorms vir die gewone mense as drama en kuns. ’n Nuwe kunsstyl wat bekend staan as Ukiyo-e, “prente van die drywende wêreld” het in skilderkuns ontwikkel. In Edo het die houtblok ’n dominante medium geword. Die houtbloktegniek is in China uitgevind en is gedurende die 8ste eeu aan Japan voorgestel. Aan die begin is dit gebruik om goedkoop godsdienstige beelde in swart en wit uit te druk. Teen die 18de eeu is die ingewikkelde gekleurde houtblokafdrukke geskep deur: ’n kunstenaar wat die beeld in ink ontwerp het, ’n spesialishoutsnyer wat dit oorgedra het op die hout en ’n drukker wat die ink bygevoeg het en die beeld gedruk het.
HOKUSAI, THE GREAT WAVE, 1829. GEKLEURDE HOUTAFDRUK.
As ’n mens na “Te Great Wave” deur Hokusai kyk, is dit verstaanbaar, in die lig van onlangse geografiese gebeure in die Stille Oseaan, om te wonder of Hokusai kennis gehad het van ’n tsunami. Die beeld in die afdruk word deur die enorme golf gedomineer. Die bote lyk nie of hulle bedreig word deur die gevaar van so ’n groot golf nie. Dit is belangrik om in ag te neem dat ’n tsunami nie baie voorspelbaar is nie. Hokusai het 36 afdrukke van Mt Fuji geskep. Die piek kan in die afstand gesien word. Die komposisie is verdeel in plat vorms van kleur, wat tipies is van ’n afdruk. Die binnekant van die golwe bestaan uit twee verskillende kleure donkerblou.
Die boonste kant van die golf is uitgebeeld in ligbeige, wit en ligblou. Wanneer daar in ag geneem word dat elke kleur ’n aparte blok nodig het om dit te sinkroniseer met die ander blokke, is dit duidelik hoe vaardig ’n afdrukmaker moet wees. Die bote en die lug bevat soortgelyke skakerings van room en beige om ’n estetiese eenheid te skep.