Die St Sernin-kapel in Toulouse, wat tydens die 11de en 12de eeue gebou is, is gebaseer op die basilika-plan van Vroeë Christenkerke en die vloerplan is in die vorm van ’n kruis. Dit is ’n voorbeeld van ’n kerk waar die probleem van die bou van ’n baie groot tonnelgewelf oorbrug is deur ’n reeks boë te gebruik om teenoorgestelde steunpilare aan mekaar te voeg. Die boë kom voor in die teenoorgestelde rigting van die tonnelgewelf van die skip en dit het dit moontlik gemaak om die dikte van die kantmure te verminder. Stutmure ondersteun ook hierdie geribde mure. Die nadeel van hierdie boustyl was dat dit moeilik was om genoeg beligting te verskaf. Die enigste plek waar vensters geplaas kon word, was in die tonnelgewelf en dit kon die struktuur laat verswak. Daarom word die enigste beligting verskaf vanaf die deur en die vensters in die sygange. Die oplossing vir hierdie probleem is gevind in die kruisgewelf. ’n Voorbeeld hiervan is die Durham-katedraal. Die kombinasie van die kruisgewelf en die stutmuurstelsel het dit moontlik gemaak om bobeuk-vensters in te sluit wat die binnekant voldoende verhelder het. Die gebruik van gepunte boë in die die Durham-katedraal dui die begin van die Gotiese argitektuur aan.
’N LUGBLIK VAN DIE ST SERNIN-KAPEL WAT DIE KRUISPATROON VAN DIE VLOERPLAN DUIDELIK UITBEELD.
DIE BUITEKANT VAN DIE DURHAM- KATEDRAAL, ENGELAND. 1093
DIE MIDDESKIP VAN DIE DURHAM-KATEDRAAL WYS OOS. DIE MIDDESKIP VAN ST. SERNIN
Gedurende hierdie tyd het alle kunsvorms staat gemaak op die ondersteuning van die kerk en sy amptenare wat finansieel magtig was. Argitekturele beeldhouwerk is ’n belangrike deel van Romaanse kuns wat Gotiese beeldhouwerk voorafgegaan het. Hierdie werke was individualisties en ekspressief en het Christus in die middel van die komposisie geplaas, terwyl simbolisme gebruik is om ’n meer ingewikkelde boodskap oor te dra.