Michelangelo di Lodovico Buonarroti Simoni (6 Maart 1475 – 18 Februarie 1564), algemeen bekend as Michelangelo, was ’n Italiaanse skilder, beeldhouer, argitek, digter en ingenieur in die Renaissance-tydperk. Die menslike liggaam was Michelangelo se grootste belangstelling.
Alhoewel Michelangelo in skilderkuns, argitektuur, digkuns en beeldhouwerk uitgeblink het, het hy homself as ’n beeldhouer beskou.
MICHELANGELO, DAWID, 1501 – 4. MARMER
Michelangelo het daarin geglo dat beeldhouwerk die hoogste vorm van kuns is omdat dit die proses van die heilige skepping weerspieël. Sy beeldhouwerk is uitsonderlik, nie net vir sy balans nie, maar ook vir die heroïse gevoel en sy uitbeelding van spanning en beweging. Kuns was vir hom “die maak van die mens” – driedimensionele beelde wat hy uit marmer gemaak het. Hy het sy standbeelde beskou as liggame wat uit hulle marmertronke vrygelaat is – die liggaam as die wêreldse tronk van die siel. Sy figure het dikwels van buite af kalm voorgekom, maar was vol innerlike spanning en onrustigheid. Michelangelo moes ’n tweedehandse marmerblok gebruik, en moes sy ontwerp by ’n moeilike vorm aanpas, byvoorbeeld die wye driehoek tussen Dawid se bene. Hier word Dawid voor sy geveg met Goliat uitgebeeld. Hy is waaksaam terwyl sy kop na regs gedraai is. Sy hele gespierde liggaam en sy gesig is strak met verbete krag. Daarom is die skynbaar gemaklike posisie misleidend. Daar is spanning in die bultende spiere, geswelde are en in die frons op sy voorkop. Hy lyk soos ’n opgewende veer; asof sy inherente krag enige oomblik tot aksie kan oorgaan. Die bewys van hierdie geweldige krag wat Dawid nodig gaan kry, kan ook gesien word in sy buitengewone groot hande en voete. Sy Dawid is die perfekte voorbeeld van die Renaissance se verering van die ideale liggaamsvorm. Die standbeeld weerspieël ryk naturalisme in vorm, beweging en gevoel oor. Die bolyf en hande is nie heeltemal in proporsie nie, moontlik omdat die werk veronderstel was om op ’n voetstuk te wees en gevolglik sou mense moes opkyk om die beeld te sien. Michelangelo was ’n meester daarin om onderwerpe uit te beeld terwyl hulle besig was om ’n sielkundige verandering te ondergaan, asof hulle nou net aan iets gedink het – en hierdie standbeeld word dikwels beskou as die uitdrukking van die oomblik waartydens Dawid besluit om Goliat te verslaan. Hierdie Dawid is die beligaming van jeugdige krag en selfvertroue.
Dis ’n goeie idee om die twee standbeelde van Dawid te vergelyk. Onthou dat ‘vergelyk’ beteken dat jy die ooreenkomste en verskille moet uitwys.
VISUELE KUNSTE 2011
“Die buitelyn van die bene is verskriklik mooi. Die aansluiting van elke ledemaat aan die liggaam is foutloos. Nooit voorheen is ’n beeld geskep met so ’n wonderlike houding nie, met sulke perfekte grasie nie, met sulke skoonheid van die hande, die voete, die voorkop nie.”