Rigor mortis het ingetree. Sy vingers is gevries in ’n klouende posisie. Sy hande druk sy geweldige fisieke pyn en sy spirituele uitreiking uit. Die kroon van dorings is vreesaanjaend. Christus se gesig is vertrek van pyn en groengrys in die dood. Die gewig van die gefolterde liggaam het Christus se arms amper uit hulle holtes getrek. Hierdie arms vorm sterk diagonale lyne en lei die oog na Christus se gesig, wat vol pyn is. Christus kom aaklig voor, sy vel is opgeswel as gevolg van die geseling en marteling wat hy moes verduur. Arms, liggaam en bene is vol merke en stukkend gesteek deur dorings. Sy voete word saamgedruk deur ’n reuse spyker. Helder rooi bloed drup uit sy wonde uit. Johannes die Doper staan onder die kruis. Hy dra ’n bloedrooi mantel en bo sy arm verskyn die woorde: “Hy moet toeneem, maar ek moet afneem” (Johannes 3:30). Die Lam van God staan onder die kruis met ’n kelk wat teen sy gewonde bors gehou word. Aan die linkerkant is Maria Magdalena, wat met smart gevul is, en wat haarself aan die voet van die kruis gewerp het. Johannes die Evangelis, ook in bloedrooi, hou die dodelike bleek Maagd Maria vas sodat sy nie flou val nie. Sy is in wit aangetrek om haar onskuld uit te beeld. Die drama van hierdie toneel word beklemtoon deur die sterk kontras tussen die helder verligte voorgrond en die donker lug en yl landskap van lae berge in die agtergrond. Hierdie Kruisiging speel af gedurende die nag en oor die heuwel in die afstand vertoon die lug in groerige skakerings van swart – wat help om ’n donker en dreigende toneel daar te stel.
Daar is ’n sterk ekspressionistiese gevoel in hierdie werk met die klem op emosies en verwringde beelde. Al die hande van die figure beeld sterk emosies uit. Die Isenheimse Altaar is in opdrag van die monnike van ’n hospitaal in Isenheim gemaak om die pasiënte, wat aan ’n verskriklike veltoestand, St Anthony se vuur of ergotisme gely het, te verlig. Die siekte is deur rogfungus veroorsaak. Pasiënte is na die altaar toe geneem sodat hulle kon besef dat Christus hulle lyding verstaan het omdat hy net soos hulle gely het.
10 Met betrekking tot
DIE VOLGENDE DRIE WERKE WYS HOE SUID- AFRIKAANSE KUNSTENAARS HIERDIE TEMA OP VERSKILLENDE MANIERE GEÏNTERPRETEER HET.
Suid-Afrikaanse kuns
Die kruisiging is ’n tema en ’n visuele motief wat al dikwels in Suid-Afrikaanse kuns verskyn het.