Ten spyte daarvan dat die visuele kunste gedurende hierdie tydperk gebloei het, het slegs ’n paar beelde behoue gebly en baie van die geboue is geruïneer. Romeinse afskriſte en beskrywings voorsien ons van meer bewyse van hierdie era. Die kuns van hierdie tydperk word beskou as superieur. Dit verskil van beide die vroeër Griekse kuns, omdat dit nie so vereenvoudig was nie, sowel as die latere Hellenistiese tydperk wat gekenmerk is deur oorversiering.
KLASSIEKE ARGITEKTUUR:
DIE PARTHENON Die belangrikste geboue van die Antieke Grieke was hoofsaaklik heilige plekke of tempels wat gebou is om die beelde van die gode aan wie dit opgedra is, te beskerm. Hierdie geboue was sentraal geleë waar almal dit kon sien en waar dit die gebied oorheers het. Net soos beeldhouwerk, het geboue ook ’n boodskap oorgedra wat die ideale van harmonie, balans en eenvoud uitgedruk het. Die beelde op die geboue het as versiering gedien en het ook belangrike aspekte oor die god aan wie die gebou opgedra is, aangedui.
Die Grieke het die gebruik van die Egiptiese boutegniek van pilare en draagbalke in klippilare en entablemente (dekstukke) oorgeneem. Griekse argitekte het die tegniek omgeruil deur die binnekant van Egiptiese tempels aan die buitekant te plaas deur die gebruik van die pilare as ondersteuning vir die buitenste raamwerk vir die dak. Die konstruksie van ’n Griekse tempel het begin met die uitleg van ’n verhewe platform. Die platform is opgerig deur pilare wat bestaan het uit suilhoofde wat gebind is deur sentrale penne. Nadat die buitenste struktuur voltooi was, is die hoofsaal gebou.
’N DIAGRAMMATIESE VOORSTELLING VAN DIE DORIESE, IONIESE EN KORINTIESE ORDES WAT ’N BELANGRIKE DEEL GEVORM HET
VAN DIE VERSKILLENDE STYLE VAN DIE
GRIEKSE EN ROMEINSE ARGITEKTUUR
VISUELE KUNSTE 2011
Die vroeë Griekse geboue het bestaan uit klip wat met hout gebind is. Die Grieke is eers later deur die Egiptiese bouwerk, wat slegs uit klip bestaan het, beïnvloed. Hulle het ook die visuele effek van die pilare en die versierde herhaling van lyswerk en argitekturele elemente in Egipte gesien. Dit het gelei tot die Griekse oorsprong van die verskillende ordes. Die ordes is die kenmerkende ontwerpe van die versiering van die entablemente, die band bo die pilare wat die dak ondersteun. Die argitektuur is bepaal deur die beskikbare materiale en die vermoë om hierdie materiale te gebruik.