Een van die wette wat die Apartheid-regering gelas het, was dat swart mense ten alle tye ’n pas moes dra. Teen 1960 was daar sterk anti-pas veldtogte. Dit het gelei tot die Sharpville-voorval in 1960 waar 69 mense doodgemaak is en 178 gewond is. Hierdie werk is geïnspireer deur die Sharpville-slagting en die verbanning van Hoofman Albert Luthuli. Harrison het die apartheid regering uitgedaag; asook die konsep dat Christus wit was. Hoof Luthuli, wat toe die president van die verbande ANC-party en die ontvanger van die Nobelprys vir Vrede was, is as Christus uitgebeeld. Dr Verwoerd, Eerste Minister gedurende daardie tyd en BJ Vorster, die destydse Minister van Justisie, word as Romeinse soldate uitgebeeld. Die skildery is eers uitgestal in ’n kerk in Soutrivier en is as godslasterlik verklaar. Dit is gesensor en is nie toegelaat om in die openbaar uitgestal te word nie. Anti-apartheid simpatiseerders het die skildery na Brittanje gesmokkel, terwyl die kunstenaar geteister is deur sekuriteitspolisie en in gevangenisskap aangehou is. Die skildery is vir ’n paar jaar in Brittanje en Europa uitgestal, en het geld ingesamel vir anti-apartheid organisasies. Die werk het daarna uit die publieke oog verdwyn en het vergete geraak. Dit is uiteindelik deur Harrison opgespoor en op 24 September 1997 (Erfenisdag) het hy sy skildery teruggekry. Dit is nou deel van die versameling van die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Galery in Kaapstad.
In hierdie werk skep Mason ’n totaal verskillende interpretasie van Christus aan ’n kruis. Daar is nie ondersteunende karakters nie, maar slegs die beeld van Christus op die kruis. Die figuur is verwronge en probeer nie om die lewe na te boots nie. Die postuur herinner aan die Christus in Grünewald se kuisiging met diagonale arms wat die figuur aſtrek. Die arm aan die linkerkant is baie swaarder as die meer gemodeleerde arm. Dit lyk of die bene afgesit is. Sy het breë kwashale gebruik om die figuur uit te druk en plek- plek is dit omlyn met dik buitelyne. Die figuur en die agtergrond is alles geskilder in ryk goudgele en bruine. Die kruis word aangedui deur die Romeinse letters. Collage-elemente skep tekstuur. Sy gebruik regte spykers op Sy arm aan die regterhand, maar ook om definisie in die agtergrond te skep. Die spykers is ’n fisieke werklikheid wat verwys na die lyding van Christus – en miskien ook na die agtergrond wat ’n landskap kan uitbeeld. Dit is ’n ekspressionistiese Christus wat getuig van afsondering en eensaamheid.
VISUELE KUNSTE 2011
RONALD HARRISON, THE BLACK CHRIST, 1962. OLIE OP DOEK
JUDITH MASON, CRUCIFIXION, 1965. OLIE OP COLLAGE OP KARTON