Donatello het bekend geword as dit beste beeldhouer van die Vroeë Renaissance. Sy meesterstuk was sy Humanistiese standbeeld van Dawid, een van die ikone van die Florentynse republiek. Donatello was ’n tydgenoot van Masaccio en Brunelleschi. Hy het ’n studie van anatomie gedoen omdat hy ’n belangstelling in Klassieke Kuns gehad het.
Hierdie Dawid was die eerste vrystaande brons sedert die klassieke tye. Hierdie werk is ’n voorbeeld van Donatello se belangstelling in die klassieke (naturalisme), maar ook sy aanpassing daarvan ten opsigte van die Renaissance – die idee van individualiteit, persoonlikheid en skoonheid. Die is glad nie ’n Griekse atleet of ’n god nie, maar ’n baie jong Dawid nadat hy Goliat verslaan het. Die houding van die figuur is soortgelyk aan Griekse beeldhouwerk, maar Donatello het ’n sielkundige drama uitgebeeld, wat die Grieke nooit probeer doen het nie. Die jong seun kyk nie na die kop van Goliat nie, maar na sy eie liggaam, asof hy nou eers die krag daarvan besef. Hierdie ontdekking van die self, beide fisiek en spiritueel is tipies van Renaissance-kuns. Die jong Dawid staan gemaklik met ’n swaard in een hand en met sy ander hand op sy heup. Hy is naak, behalwe vir die versierde hoed en stewels. Sy voete rus op die kop van die verslane Goliat. Sy spiere is gesimplifiseer en die egalige naakte liggaam is in sterk kontras met die versierde en ryklik getekstureerde dele van die hoed en die reus se kop. Daar is ’n gemaklike vloei van kontoere - ’n lyn wat by sy kop begin en deur sy linkerarm en regterarm tot by Goliat se kop strek. Daar is ook ’n vloei van ruimte in die arms en weg van die liggaam af. Die beskeie postuur en geïdealiseerde vorms is tipies van die Renaissance. Die louriere in sy hoed en die krans was simbole van die Medici-familie waar die beeld gin hul paleis geplaas is.