Een van die beroemde kouroi van die Argaïese tydperk is die Kouros van Tenea, naby Korinthe. Hierdie marmer standbeeld staan 1.52m hoog en dateer terug tot 570 v. C. Dit is naby ’n graf gevind en was dus ’n grafeeld. Wanneer ’n mens na die verskillende kouroi kyk, is dit duidelik dat hul almal van mekaar verskil, maar daar is sekere eienskappe in hierdie standbeeld wat by almal voorkom. Dieselfde stywe houding, met arms langs die sye, gebalde vuiste, een voet effens voor die ander en die kop wat opgelig is en reguit vorentoe kyk, kan in meeste figure wat die ideale jeugdige weerspieël, gesien word. Hierdie simmetriese regop houding herinner sterk aan die Egiptiese beelde. Klem word geplaas op die breë skouers, ontwikkelde borsspiere en kuite, smal middel en geronde dye en boude. Alles dra by tot die atletiese voorkoms van die jeugdige. Die glimlag wat ’n “argaïese glimlag” genoem word, die uitdrukkinglose oë en die lang golwende hare is die tipiese gesigsuitdrukking van die tydperk. In vroeë weergawes van die kouroi word die kuite en dye beklemtoon terwyl die Kouros van Tenea ’n meer natuurlike benadering het, met ’n meer geronde voorkoms.
KRITIOS SEUN C. 480 V.C.
KOUROS VAN ANAVYSOS C. 530 V.C. PIRAEUS APOLLO C. 520-530 V.C. THE KOUROS FROM TENEA, C. 570 B.C. VISUELE KUNSTE 2011