DISCOBOLOS Die Discobolos is oorspronklik in brons deur die Griekse beeldhouer, Myron, geskep. Hy was bekend vir sy naturalistiese beeldhouwerk waar figure in ’n oomblik van aksie vasgevang is. Waarskynlik omdat dit die atletiese ideaal verteenwoordig, was die Discolbolos baie gewild onder die Romeine; soveel so dat hulle etlike marmer kopieë daarvan laat maak het.
Hierdie vroeë werk van die Klassieke tydperk illustreer hoe die beeldhouers van daardie tyd wegbeweeg het van die stywe houdings van die Argaïse tydperk. Hulle het hul toegelê op die studie van die menslike figuur in aksie, oſtewel die beweging van die figuur deur ruimte. Met die Discobolos het ons ’n ideale voorstelling van die fisiese werklikheid van die oomblik. Ons sien die atleet op die oomblik net voor hy die swaar diskus vorentoe swaai. Let op hoe die plasing van die arms en bene, en die gebruik van die verspreiding van die liggaamsgewig saam met die vorm van die spiere alles saam ’n effek skep wat die Grieke ‘rhythmos’ of patroon genoem het. Die lyn wat deur die arms gespan word, skep ’n kurwe wat kruis met die kurwe wat deur die gebuigde knie geskep word. Die torso wat vooroor buig, kruis ook met die ander twee boë en skakel hulle aaneen. Die boonste helſte van die werk is glad en oop, terwyl die onderste helſte uit hoekige, oorvleuelende vorms bestaan. Hierdie effekte lei tot ’n verbreking van die simmetrie, wat dan bydra tot die gevoel van balans wat verkry is.
Ten spyte van die dramatiese effek van aksie en balans wat deur die uitbeelding van die gedraaide torso verkry word, is die gesigsuitdrukking relatief emosieloos. Dit word ervaar as ’n teken van krag en mag wat met die uitmuntendheid van die atleet geässosieer word.
Alhoewel Myron se bedoeling was dat hierdie beeldhouwerk asof op een vlak, soos ’n reliëf sonder agtergrond, gesien moes word, bewys die verskillende aansigte van die werk dat dit vanuit alle hoeke besigtig kan word. Hierdie is nog ’n aspek wat verskil van die meer eenvoudige vooraansig van voeëre werke.
DISCOBOLOS OF DIE DISKUSGOOIER, GESKEP DEUR MYRON IN 460-450 V.C.
Hierdie beeldhouwerk is een van die Klassieke beeldhouwerke wat die Griekse ideaal van balans uitbeeld.