Figuur 5.15: Negatiewe (–) ladings versamel op die oppervlak van ’n PVC-pyp
As een van die materiale ’n geaarde elektriese geleier is, sal sy lading dadelik weglek, terwyl die ander materiaal gelaai bly.
Oorsaak van statiese elektrisiteit Statiese elektrisiteit ontstaan gewoonlik wanneer sekere materiale teen mekaar gevryf word – soos wol op plastiek of jou skoensole op ’n mat. Dit word ook veroorsaak as materiale teen mekaar gedruk en dan van mekaar af weggetrek word. Hierdie proses maak dat elektrone van die oppervlak van een materiaal afgestroop en na die oppervlak van die ander materiaal verplaas word. Die materiaal wat elektrone verloor, hou ’n oormaat positiewe (+) ladings oor. Die materiaal wat elektrone wen, sit met ’n oormaat negatiewe (+) ladings op sy oppervlak.
Donderstorms As daar buitengewoon groot turbulensie tussen waterdruppels voorkom, soos in ’n onweerswolk, kan statiese elektrisiteit op die waterdruppels opbou. Benjamin Franklin het bewys dat statiese elektrisiteit in ’n donderstorm ontstaan deur ’n vlieër in ’n storm op te stuur. Hy het die teenwoordigheid van statiese elektrisiteit vasgestel deurdat die vesels op die vlieër se lyn regop gestaan het en ’n elektriese vonk na ’n metaalsleutel oorgespring het. Dit was ’n gevaarlike eksperiment, en dit was blote geluk dat Franklin nie doodgeskok is nie. (Lees Ben Franklin se biografie vir verdere inligting.)
Kenmerke van statiese elektrisiteit
Statiese elektrisiteit kan maak dat materiale mekaar aantrek of afstoot. Dit kan ook veroorsaak dat ’n vonk van die een materiaal na die ander oorspring.
Aantrekking Vryf ’n ballon teen ’n woltrui. Die ballon versamel negatiewe elektriese ladings op sy oppervlak en die wol versamel positiewe ladings. Jy kan nou die ballon teen die muur laat kleef, wat nie ’n oormaat van enige lading het nie. Die ballon sal ook teen die wol kleef, maar die ladings kan binne ’n kort rukkie na die oorspronklike materiaal terugspring. Jy kan ook ’n kam deur jou hare trek om die kam met statiese elektrisiteit te laai. Dan kan jy die kam gebruik om neutrale stukkies papier op te tel.
Figuur 5.16: Voorbeeld van die effek van statiese elektrisiteit 87