’n Stroombreker is ’n outomaties beheerde, elektriese skakelaar wat ontwerp is om ’n elektriese stroombaan teen oorstroom- of kortsluitskade te beskerm. Sy basiese funksie is om ’n fouttoestand te bespeur en om deur onderbreking van die kontinuïteit die vloei van elektriese stroom onmiddellik te stop.
Voordeel: Anders as ’n sekering, wat eenmalig werk en dan vervang moet word, kan ’n stroombreker teruggestel word (per hand of outomaties) om weer normaal te werk. MSB’s bied ook ’n meer presiese uitskopwaarde en is baie betroubaar.
Figuur 7.7: MKB
Stroombrekers word in verskillende groottes vervaardig, vanaf klein toestelle wat individuele huishoudelike toestelle beveilig tot groot skakeltuig vir die beveiliging van hoogspanningskringe wat hele stede bedien.
’n Nadeel van MSB’s is dat hulle baie groter is as sekeringe en baie kos om te vervang.
Magnetiese stroombrekers
Alle stroombrekers vereis een of ander metode waarvolgens die krag van ’n elektriese stroom bepaal kan word, sodat hulle op ’n skielike toename in stroom kan reageer. Sommige stroombrekers reageer meesal op die temperatuur en skop uit wanneer hulle oorverhit, maar ’n magnetiese stroombreker gebruik ’n elektromagneet om ’n magneetveld te skep wat gebruik word om die stroomsterkte te bepaal.
Magnetiese stroombrekers gebruik ’n solenoïed (elektromagneet) waarvan die trekkrag toeneem soos die stroom styg. Die stroombreker se kontakte word deur ’n klink toegehou. Soos die stroom in die stroombaan bokant laasgenoemde se dravermoë toeneem, lig die solenoïed se trekkrag die klink, wat dan die kontakte toelaat om teen ’n veer oop te spring en die elektrisiteit te ontkoppel. ’n Magnetiese stroombreker kan onmiddellik herset word, want sodra dit uitskop, breek die magneetveld af, wat die stroombreker dan herset.
Termiese magnetiese stroombrekers
Termiese magnetiese stroombrekers, die soort wat in die meeste verdeelborde gebruik word, gebruik beide tegnieke: die elektromagneet wat onmiddellik op groot stroomstuwings (kortsluitings) reageer en die bimetaalstrook wat op minder ekstreme, maar langer durende oorstroomtoestande reageer. Stroombrekers word aangeslaan met inagneming van beide die normale stroom wat hulle moet kan dra en die maksimale kortsluitstroom wat hulle met veiligheid kan onderbreek.