Dit speel ook ’n groot rol in die meeste ongelukke. Kom ons kyk na ’n paar onveilige toestande: • Onvoldoende afskerming • Swak ventilasie • Growwe of gladde vloere • Geen persoonlike beskermende toerusting • ’n Swak georganiseerde werkswinkel • ’n Oorvol werkswinkel • ’n Swak beplande werkswinkel • Loshangende klere en lang hare • Te min lig in die werkswinkel.
Loopgange, stoorplekke en ander aangewese areas
Die risiko van ongelukke in die werkswinkel kan ook verminder word deur op minder opvallende riskante areas soos loopgange, stoorplekke en ander soortgelyke plekke te fokus. Daar sal in elke werkswinkel spesiale aangewese plekke wees waar masjinerie geplaas word, materiaal geberg word en ook areas waar die gebruikers van die werkswinkel vryelik kan loop. Dit is dus belangrik dat sulke areas duidelik met spesiale tekens op die werkswinkelvloer gemerk word. Loopgange word gewoonlik groen geverf met geel strepe aan die buiterande, wat die wydte daarvan aandui. Werk- en masjienplekke en stoorplekke word ook aangedui deur spesiale vloermerke en word soms ook met versperrings afgesonder. Om hierdie loopgange en aangewese areas effektief te hou en om die werkswinkel veilig te hou, moet hulle skoon en sonder versperrings gehou word. Hierdie areas moet ook droog en vry van enige gemorsde materiaal of rommel gehou word. Dit is dus belangrik dat hierdie areas gereeld skoongemaak word. Daar moet verseker word dat hierdie vloeroppervlakke stewig is en voorsien is van ’n glyvaste afwerking wat maklik skoongemaak kan word.
Stoor- en werkareas moet van mekaar geskei word. Alle stoorplekke moet netjies en ordelik gehou word en houers moet nie so hoog opgestapel word dat hulle ’n gevaar inhou om af te val nie.
Ander areas in ’n werkswinkel wat spesiaal aandag moet geniet, is nooduitgange, loopgange, brandblussers en noodhulphouers. Nooddeure moet duidelik aangedui wees en binne en buite sonder versperrings wees. Brandblussers en noodhulphouers moet duidelik gemerk en maklik toeganklik wees.
Kleurkodering
Kleurkodes word gebruik omdat dit ’n taal is wat almal verstaan wanneer dit om die bevordering van veiligheid gaan. Die gebruik van kleurkodes sal help om ongelukke te voorkom. Dit is belangrik dat almal bewus is van die kleurkodes wat gebruik word. Verduidelikings van kleurkodes moet op strategiese plekke in werkswinkels vertoon word. Die vier basiese kleure wat gebruik word, is:
ROOI: Word gebruik om brandbestrydingstoerusting en stopknoppe aan te dui. ORANJE: Identifiseer gevaar en dele van toerusting wat ’n mens kan vergruis, sny, skok of beseer.