Kapasitors word deesdae in feitlik elke elektroniese stroombaan gebruik. Elke dag word daar duisende kapasitors gemaak, maar daar is verskeie soorte kapasitors beskikbaar. Elke soort het sy eie voor- en nadele en kan in verskillende stroombane gebruik word, en ’n mens moet iets van elkeen weet om die regte een vir enige gegewe gebruik of toepassing te kan kies.
Kapasitorkenmerke Kapasitors kan op ’n verskeidenheid maniere in elektroniese stroombane gebruik word. Hoewel hulle altyd op presies dieselfde manier werk, kan hulle ’n verskeidenheid funksies in verskillende stroombane vervul: • Koppelkapasitor: wat WS-seine van een deel van ’n stroombaan na ’n ander deurlaat, maar enige GS-seine blokkeer.
• Ontkoppelkapasitor: om enige WS-seine te verwyder wat op enige GS- voorspanningspunt of kragspoor mag bestaan
• Afvlakkapasitor: Dit is basies dieselfde as ’n ontkoppelkapasitor, maar hierdie term word gewoonlik in verband met ’n kragbron gebruik.
• Tydreëlelement: Vir hierdie toepassing kan ’n kapasitor saam met ’n weerstand of induktor in ’n resonante of tydsafanklike stroombaan gebruik word. In hierdie rol kan die kapasitor voorkom in ’n filter, ’n ossillatoringestemde stroombaan of in ’n tydreëlelement vir ’n astabiele stroombaan, waar die tyd wat dit neem om te laai en te ontlaai die werking van die stroombaan bepaal.
Benewens die funksie binne ’n stroombaan is die bedryfsfrekwensie ook van belang. Sommige kapasitors werk beter teen lae frekwensie, terwyl ander beter teen hoë of radiofrekwensies werk.
Kapasitortipes Daar is baie verskillende tipes kapasitors te koop vir die gebruik in elektroniese stroombane. Sommige kapasitortipes word minder dikwels gebruik of is minder algemeen. Dit is nie moontlik om al die verkillende tipes hier te noem nie - net die belangrikste tipes word hieronder gelys.
1. Keramiek Soos die naam aandui, word keramiekkapasitors so genoem omdat hulle ’n keramiekdiëlektrikum gebruik. Dit gee hulle baie eienskappe, waaronder ’n lae verliesfaktor en ’n redelike goeie stabiliteit, maar dit hang van die spesifieke soort keramiek af. Keramiekdiëlektrikums gee nie so ’n hoë vlak van kapasitansie per eenheidsvolume soos ander tipes nie en gevolglik lê die waardes van keramiekkapasitors tipies tussen enkele pikofarad en sowat 0,1 µF.
Daar bestaan ’n verskeidenheid soorte diëlektrikums. Die meer bekende vorms is: • COG: Word normaalweg vir lae kapasitansiewaardes gebruik. Dit het ’n lae diëlektriese konstante, maar ’n hoë stabiliteitsvlak.
Figuur 5.24: Keramiek kapasitor
• X7R: Word vir hoër kapasitansievlakke gebruik, omdat dit ’n baie hoër diëlektriese konstante as COG het, maar dit is minder stabiel.
• Z5U: Word vir nog hoër kapasitansievlakke gebruik, maar is minder stabiel as COG of X7R.