Elektriese Tegnologie Elektriese handboor en boorpers
Sorg altyd dat los klere en loshangende hare uit die pad gehou word. Klein werkstukke moet behoorlik vasgeklamp word voordat jy boor. Dra altyd ’n veiligheidsbril wanneer jy ’n boor gebruik. Moet nooit die kloukop se sleutel in die kloukop los wanneer daar geboor word nie.
Figuur 1.2: Die gebruik van ’n elektriese handboor
Slypmasjien
Dra altyd ’n leervoorskoot, veiligheidsbril of gesigskerm wanneer jy slypwerk doen. Moet nooit die sykant van die slypwiel gebruik nie. Gebruik ’n skroefek wanneer jy klein werkstukke boor. Sorg dat alle skutte, skerms en veiligheidskakelaars in goeie toestand is.
Maak van die etskaart
Elektronika-entoesiaste gebruik graag klaargemaakte stelletjies vir stroombane, maar dit is belangrik dat jy die kuns om jou eie bane te maak, bemeester. Om ’n gedrukte stroombaan (PCB) te maak, behels bloot die oordra van die ontwerp op die PCB. Die koperfoelie word dan weggeëts sodat slegs die patroon van al die konneksies tussen die verskillende komponente oorbly.
Die ontwerp van die PCB, die oordra van die stroombaan en die etswerk kan deur verskeie prosesse gedoen word, afangende van wat beskikbaar is. Die algemeenste etsmiddel is ysterchloried. Ongeag die metode wat jy gebruik, bly die etswerk van kritieke belang. Die chemikalieë kan gevaarlik wees as dit nie behoorlik hanteer word nie.
Jy moet rubberhandskoene en ’n voorskoot dra wanneer jy etswerk doen. As daar baie dampe vrygestel word, moet die vertrek waar jy werk, goed geventileer wees. Baie van die chemikalieë wat gebruik word, kan selfs met vlekvrye staal reageer, gebruik dus ’n plastiekskottel of wasbak van porselein vir afspoel en skoonmaak. Gooi gebruikte chemikalieë in ’n plastiekhouer en bêre dit veilig totdat dit vol is. Dit is onwettig, gevaarlik en ook skadelik vir die omgewing om chemiese stowwe in die wasbak of toilet af te gooi. Maak eerder gebruik van die dienste van ’n firma wat spesialiseer in die verwydering van afvalstowwe om dit weg te neem.
Isolering van ’n stroombaan gedurende instandhouding
Figuur 1.3: Isoleerskakelaar
Onderhouds- en herstelwerk word gereeld in elke fabriek of werkswinkel gedoen. Om die veiligheid van die onderhouer(s) te verseker, is dit belangrik om die toevoer na die deel van die stroombaan waaraan hulle gaan werk, af te skakel. Ter wille van die veiligheid van die onderhoudspan moet die volgende gedoen word: • Sluit die toevoer na die stroombaan af • Stel die skakelaar in die “af”-posisie • Plaas ’n kennisgewing op die skakelaar (Onderhoud: Moenie aanskakel nie) • Aard alle geleiers wat daardie stroombaan voed • Maak dubbel seker dat die toevoer af is, bv. deur die aansitknop weer te druk. • Ontkoppel alle toevoergeleiers • Nou kan die defekte komponent verwyder word.