Gereedskap en meetinstrumente • Sny die PCB tot die vereiste grootte en vyl die kant van die bord glad en gelyk.
• Gebruik ’n skuurspons of ander skuurmateriaal om die koperkant deeglik te reinig. Moet nie met kaal hande daaraan raak nie; hanteer die PCB slegs aan die kante.
• Jy is nou gereed om die ontwerp van jou stroombaan (met die hand geteken, deur ’n rekenaar geskep, of ’n bestaande handelsontwerp) na die PCB oor te dra. Dit kan op een van verskeie manier gedoen word: i) Deur ’n “permanente” swart merkpen te gebruik om jou ontwerp op die koperlaag van die PCB af te trek. Hierdie metode is eenvoudig en relatief goedkoop. ii) Deur “Press-’n-Peel” blaaie te gebruik. Jou ontwerp word met ’n laserdrukker op die dowwe kant van die “Press-’n-Peel” gedruk. Die dowwe kant word dan op die skoon PCB geplaas en die ontwerp word op die bord vasgestryk. Die proses is taamlik eenvoudig en nie te duur nie – ’n A4-blad kos sowat R30,00. Onthou ook dat meer as een ontwerp op ’n A4-blad kan pas (afangende van die grootte van die ontwerp). iii) Deur fotolitografie te gebruik. Die koperkant van die PCB moet eers met ’n fotosensitiewe materiaal bedek word. Jy kan die positiewe óf negatiewe metodes gebruik – ’n positiewe of negatiewe weergawe van die ontwerp kan met ’n laserdrukker op ’n deursigtige transparant oorgedruk word. Die ontwerp word dan na die fotosensitiewe PCB oorgedra deur ultravioletlig te gebruik. Hierdie metode is baie duur, want die materiaal en toerusting kos baie.
• Jy is nou gereed om die ongewenste koper te verwyder sodat slegs die koperbane agterbly. Dit word die etsproses genoem. Die PCB, met die stroombaan op die koperkant daarvan afgedruk, word nou in ’n plastiekhouer (soos ’n leë roomysbak) geplaas en met genoeg etsmiddel gevul om die bord heeltemal te bedek. Die gebruiklikste etsmiddel is ysterchloried; daar is ook ander etsmiddels beskikbaar soos soutsuur en ammoniumpersulfaat. Ysterchloried is beskikbaar as korrels of poeier, asook in klaargemengde vloeistofvorm. Vir meer doeltreffende etsing kan die ysterchloriedoplossing effens verwarm word en die PCB gereeld beweeg word. Die etsmiddel kan warm gehou word deur die etsbak in ’n groter bak kookwater te plaas. As al die ongewenste koper verwyder is, kan die PCB uit die etsmiddel verwyder word. Slegs die bedekte koperbane van jou stroombaanontwerp bly nou agter op die PCB.
2
Figuur 2.19: Die kring word oorgedra na die PCB
Figuur 2.20: Geëtste PCB
• Die PCB word nou met skoon water afgespoel. Dit is beter om dit in ’n porseleinwasbak te doen, want ysterchloried reageer met enige metaal, ook vlekvrye staal.
• Al die nodige gate kan nou met die regte boorpunt (van 0,8 mm tot 1 mm) geboor word. Werk versigtig, want die boorpunte breek maklik en is taamlik duur om te vervang.
• As al die gate geboor is, kan die masker wat die koperbane beskerm, met fyn staalwol onder lopende water afgeskrop word. Die masker moet slegs verwyder word as jy reg is om te soldeer, want die blootgestelde koperbane oksideer (roes) vinnig, wat dit moeilik maak om hulle te soldeer.