In die afgelope jare het die digitale meter die gewildste tipe geword, en die fokus sal dus in hierdie hoofstuk op die digitale meter val. Let daarop dat die basiese metode vir die meet van spanning, stroom en weerstand by digitale en analoë meters dieselfde is.
Soos vroeër genoem, kan ’n multimeter verskeie funksies uitvoer. In hierdie stadium sal ons slegs na die meting van spanning, stroom en weerstand kyk. Let ook daarop dat sommige multimeters ’n outomatiese meetstrekfunksie het wanneer ’n lesing geneem word, met ander woorde: jy kies die funksie en die meter kies self die strek of die skaal.
Voordele van digitale multimeters
• Digitale multimeters is baie akkuraat • Hulle word nie deur eksterne magneetvelde beïnvloed nie • Die responstyd is kort • Hulle is baie robuust en kan redelik harde stampe, groot vibrasies en temperatuurveranderings weerstaan • Hulle is maklik om te lees.
Nadele van digitale multimeters • Hulle gebruik 'n eksterne kragbron • Hulle is gevoelig vir inmenging van geraas.
Spanningsmeting (GS en WS)
Spanning kan gemeet word terwyl die stroombaan met die toevoer verbind is. Die rooi leidingsdraad moet by die V/Ω/mA-sok en die swart leidingsdraad by die COM-sok (of aardingsteken) ingeprop word.
Let Wel!
Maak altyd seker dat die leidingsdraad korrek verbind is voordat jy enige lesing neem.
2
Jy is nou gereed om jou eerste spanningslesing te neem: • Die kiesskakelaar moet eers na die voltskaal (GS of WS) gedraai word, afangend of jy WS of GS wil meet.
• Kies altyd die hoogste moontlike skaal of strek.
• Verbind nou die swart en rooi leidingsdrade oor die komponent (parallelskakeling) waarvan jy die spanning wil meet. Maak seker dat die rooi leidingsdraad aan die kant van die komponent verbind is wat met die positiewe kant van die toevoerspanning verbind is. Verstel nou geleidelik die strek terwyl jy die lesing neem totdat jy ’n realistiese lesing kry.