Algemene veiligheidsreëls vir hand- en kraggereedskap
• Hou alle gereedskap in ’n goeie toestand deur gereelde instandhouding. • Gebruik die regte gereedskap vir die taak. • Moenie beskadigde gereedskap gebruik nie. • Volg die regte prosedure vir elke gereedskapstuk. • Dra altyd die regte veiligheidstoerusting vir die taak. • Moet nooit gereedskap aan die koord dra nie.
Aktiwiteit 1
1. Noem vyf belangrike veiligheidsreëls vir die gebruik van hand- of kraggereedskap.
2. Hoekom is dit belangrik om altyd 'n veiligheidsbril te dra wanneer jy 'n slypmasjien gebruik?
3. Hoekom moet gereedskap se handvatsels wat in 'n elektriese omgewing gebruik word, altyd goed geïsoleer wees?
4. Noem twee aspekte wat in gedagte gehou moet word wanneer jy met 'n ystersaag (groot of klein) werk.
Soldering
Dit kan beskryf word as ’n lae-temperatuur hegmetode waar die hegmateriaal, soldeersel, ’n laer smeltpunt het as die materiaal wat verbind word. Die proses behels die vashegting van metaaloppervlakke sonder om hulle te sweis. Die gevolg is ’n soliede, geleidende las. Tin-loodsoldeersel was eers algemeen, maar loodvrye soldeersel word nou verkies, omdat dit nie so toksies is nie en meer omgewingsvriendelik is.
Voordat ’n leerder soldering kan begin beoefen, moet die volgende belangrike aspekte in ag geneem word: • Die soldeerbout word baie warm (± 400 °C) en moet versigtig gehanteer word. • Moet nooit ’n soldeerbout op die werktafel laat lê nie; plaas dit altyd terug in die staander wanneer dit nie gebruik word nie om brande te verhoed.
• Soldeerwerk veroorsaak baie skadelike dampe. Werk dus in ’n goed geventileerde area.
• Die punt van die soldeerbout moet altyd skoon (blink) gehou word. Gebruik ’n klam spons of lap daarvoor.
• Soldeerboute moet afgeskakel word wanneer hulle nie gebruik word nie. Dit spaar die element en soldeerpunt.
• Die punt van die soldeerbout moet gereeld “vertin” word (soldeersel moet aan die punt gesmelt word) om hitteoordrag tydens soldering te bevorder.