2. Elektrolities Die elektrolitiese kapasitor is die gewildste tipe vir waardes bo sowat 1 mikrofarad en het een van die hoogste kapasitansievlakke vir ’n gegewe volume. Dit is opgebou uit twee dun lae aluminiumfoelie, waarvan een met ’n oksied bedek is as isoleermiddel. ’n Vel papier wat met elektroliet versadig is, word tussenin geplaas, waarna die twee plate om mekaar opgerol en dan in ’n metaalhouer geplaas word.
Hierdie kapasitors is gepolariseer en kan dus net in een rigting in die stroombaan geplaas word. As hulle verkeerdom verbind word, kan hulle beskadig word, en in uiterste gevalle kan hulle ontplof. Die aangeslane werkspanning mag ook nie oorskry word nie. Normaalweg behoort hulle heelwat onder hierdie waarde gebruik te word.
Hierdie kapasitors het ’n wye toleransie. Die waarde van die komponent kan tipies met ’n toleransie van -50% tot +100% aangedui word. Nogtans word hulle algemeen in oudiotoepassings as koppelkapasitors gebruik en vir afvlakkingstoepassings vir kragbronne. Hulle werk nie goed teen hoë frekwensies nie en word gewoonlik nie vir frekwensies bo 50 – 100 kHz gebruik nie.
3. Plastiekfilmkapasitors Daar is ’n aantal verskillende soorte plastiekfilmkapasitors. Polikarbonaat, poliëster en polistireen is van die algemeenstes. Elkeen het sy eie kenmerke wat hom vir spesifieke toepassings geskik maak. Hulle waardes kan wissel van ’n paar pikofarad tot ’n paar mikrofarad, na gelang van die tipe. Hulle is gewoonlik nie polêr nie. Algemeen gesproke is hulle goeie aldoelige kapasitors wat vir ’n verskeidenheid doeleindes gebruik kan word, hoewel hulle hoëfrekwensiewerkverrigting gewoonlik nie so goed soos dié van keramiekkapasitors is nie. Algemene tipes sluit die volgendes in: • Mylar – kan geruis veroorsaak in toepassings waar vibrasie voorkom • Polikarbonaat – matige vlak van verlies wat met frekwensie kan toeneem; baie hoë isolasieweerstand
• Poliëster – matige vlak van verlies wat met frekwensie kan toeneem. Baie hoë isolasieweerstand.
• Polistireen – het gewoonlik baie lae verlies, maar groot temperatuurkoëffisiënt, rondom –150 dpm/C.
4. Silwermika Silwermikakapasitors word gemaak deur silwerelektrodes direk op die mikafilmdiëlektrikum te plateer. Om die nodige kapasitansie te kry, word verskeie lae gebruik. Aansluitdrade word dan bygesit en die geheel in ’n dop toegemaak. Die waardes van silwermikakapasitors wissel van ’n paar tot twee- of drieduisend pikofarad.
Silwermikakapasitors word nie meer so algemeen gebruik soos vroeër nie. Hulle is egter nog steeds verkrygbaar en word gebruik waar die stabiliteit van die waarde uiters belangrik is en lae verlies vereis word. Om hierdie rede word hulle veral gebruik in die ingestemde elemente van stroombane soos ossilleerders of filters.
5. Tantaal Vir baie gebruike is gewone elektrolitiese aluminiumkapasitors aan die groot kant. In toepassings waar grootte belangrik is, kan tantaalkapasitors gebruik word. Hulle is heelwat kleiner as die elektrolitiese aluminiumkapasitors en in plaas van ’n oksiedlaag op aluminium word ’n oksiedlaag op tantaal gebruik. Hulle het gewoonlik nie ’n hoë spanning nie – die maksimum is gewoonlik 35 V – en party se waarde is net sowat 1 V. Nes elektrolitiese kapasitors is