Gebruike van sonselle ’n Vroeë toepassing van sonselle was in die vervaardiging van ruimtetuie in die middel van die 1950’s. Dit was die enigste kragbron wat betroubaar en onderhoudsvry was en ’n feitlik ewigdurende energiebron gehad het. Een nadeel van die eerste sonselle was dat hulle baie duur was. In die vroeë 1970’s is sonkrag in afgeleë toepassings gebruik om elektrisiteit vir telekommunikasieapparaat of aan mense in afgeleë gebiede te voorsien. In die meeste gevalle is die gebruik van sonkrag in hierdie toepassings baie goedkoper as dié van kragopwekkers of selfs aansluiting aan die kragnet. Heel onlangs is daar ook met sonaangedrewe voertuie geëksperimenteer in ’n poging om omgewingsvriendeliker te raak. Daar is ook baie aandag gegee aan die installering van sonkrag warmwatertoestelle in gewone huise om krag te help bespaar. Afgesien van energiebesparing deur verbruikers, sal verbruikers ook mettertyd op hulle elektrisiteitsrekenings bespaar. ’n Verdere toepassing is die gebruik van sonkrag vir verkeersligte in geval van kragonderbrekings. Daar word selfs voorsien dat sonselle in die toekoms in dakteëls ingebou en die krag wat opgewek word, deur die huiseienaars gebruik kan word – wat besoedeling sal verminder en ons ’n stap nader aan die gebruik van skoon energie sal bring.
Basiese toevoerbron
Die gebruik van (droë) batterye om krag aan draagbare toestelle soos radio’s, TV’s, versterkers, ens. te voorsien, kan baie duur word. Om die gebruik van batterye te vermy, kan ’n eenvoudige kragbron gebou word om enige draagbare elektroniese toestel aan te dryf. So ’n kragbron kan ’n vaste of ’n veranderbare kragbron wees, na gelang van die behoeſte. Kom ons kyk na ’n heel eenvoudige vaste kragbron asook die werking van elkeen van sy komponente.
Blokdiagram van ’n eenvoudige kragbron 230 V ws hooftoevoer (verlagings)