Inleiding Aan die einde van hierdie hoofstuk sal jy meer weet van batterye en sonselle as kragbronne en hulle voor- en nadele. Ons sal ook kortliks na die kapasiteit en die VA-aanslag van battterye en die interne weerstand van selle kyk.
Energiebronne Daar is deesdae ’n groot aantal energiebronne beskikbaar.
Steenkoolenergie – Steenkool is ’n klip wat soos dit verbrand, energie vrystel. Aardgas – Aardgas soos ons dit ken, bestaan hoofsaaklik uit metaan. Metaan, ’n verbinding van waterstof en koolstof, word gevorm wanneer plante en diere (organiese materie) onder die aarde se sedimentêre lae vasgevang word. Petroleum – Petroleum is een van die fossielbrandstowwe, wat steenkool, olie en aardgas insluit. Windkrag – Windkrag is ’n hernubare hulpbron. Wind is ’n vorm van sonkrag. Geotermiese energie – Geotermiese energie kan herwin word uit die aarde se natuurlike hitte, wat verband hou met aktiewe vulkane of jong (geologies gesproke) onaktiewe vulkane wat nog steeds ondergronds hitte afgee. Sonenergie – Sonenergie, wat deur die son voorsien word, is die mees onuitputbare en skoonste bekende bron van energie. Waterkrag – Waterkrag lewer sowat 20% van die wêreld se elektrisiteit. Kernenergie – Die beginsel van elektrisiteitopwekking deur hitte is dieselfde by kernkragproduksie as by kragopwekking uit steenkool of olie. Kernenergie behels die beheerde splitsing van radioaktiewe atome (veral Uraan-238). Chemiese energie – Die elektrolitiese proses soos dit in batterye gebruik word.
Ons studie van energiebronne sal batterye en sonselle insluit. Selle en batterye
In ’n elektriese sel reageer ’n elektroliet chemies met twee elektrodes en maak een positief en die ander negatief. ’n Paar selle wat saamgevoeg word, vorm ’n battery. Slegs eenderse selle kan saamgevoeg word tot ’n battery. ’n Battery is ’n toestel wat chemiese energie direk in elektriese energie omsit.
Sel Figuur 4.1: Simbole van selle en batterye
Selle word breedweg in twee kategorieë ingedeel, elkeen met sy voor- en nadele. Primêre selle sit chemiese energie onomkeerbaar in elektriese energie om. Wanneer die aanvanklike voorraad reagense uitgeput is, kan energie nie geredelik by wyse van elektrisiteit in die battery teruggeplaas word nie.
Sekondêre selle kan herlaai word, d.w.s. hulle chemiese reaksies kan omgekeer word deur elektriese energie aan die sel te voorsien, wat die oorspronklike samestelling daarvan herstel.