Amateurradio gebruik ook tweerigting-kommunikasie soos hierbo bespreek. Radioamateurs gebruik verskeie transmissiemetodes, waarvan stemtransmissie die algemeenste is. Baie amateurs begin met BHF FM, en gebruik handsenders/ -ontvangers (Eng: “transceivers”) wat op een frekwensie uitsaai en op ’n ander ontvang. Amateurs gebruik FM-herhalers wat deur plaaslike klubs opgerig en bedryf word. Hierdie herhalers staan gewoonlik bo-op berge of hoë geboue om honderde kilometer ver te kommunikeeer met ’n betreklik swak handsender/ ontvanger. Party amateurradio’s pas in ’n hempsak of onder ’n motor se paneelbord; ander kan weer ’n kleinerige vertrek vul.
Nood- en rampbestuurdienste Nood- en rampbestuurdienste maak ook gebruik van radiokommunikasie. Elkeen van hierdie dienste sal sy eie frekwensie hê waarop seine gestuur en ontvang word. Die soort kommunikasie wat gebruik word, is veral tweerigting, waar een persoon kan praat en die ander kan luister. Let egter daarop dat omdat al die radio’s op dieselfde golflengte is, alle gesprekke dus na alle radio’s versprei word. Vir rampbestuur is dit soms belangrik dat daar ook ’n soort amateur- radiokommunikasie bestaan. Dit is belangrik in geval van ’n ramp waar daar geen toegang tot konvensionele radiokommunikasie is nie en kommunikasie d.m.v. amateurradio dan essensieel word. Nood- en rampdienste werk gewoonlik tussen 300 MHz en 3 000 MHz in die UHF-bestek.
Radiogolwe
Elektromagnetiese radiogolwe word geproduseer wanneer elektrone in ’n lugdraad versnel word. Elektromagnetiese golwe is energiedraers wat verband hou met ’n wisselende magneetveld van dieselfde frekwensie en fase. Die velde is reghoekig met mekaar en met die beweegrigting van die golf. Radiogolwe beweeg gewoonlik teen sowat 300 000 km per sekonde.
Radiogolwe het die langste golflengtes in die elektromagnetiese spektrum. Hierdie golwe kan langer wees as ’n rugbyveld of so kort soos ’n voetbal. Die radiogolwe wat deur uitsaailugdrade die ruimte in gestuur word, is ’n baie komplekse vorm van energie wat elektriese sowel as magneetvelde bevat. Radiogolwe doen meer as om net musiek na jou radio te bring; hulle dra ook seine vir jou televisie en selfoon.
Voortplanting van radiogolwe Radiosending is ’n term wat gebruik word om te verduidelik hoe radiogolwe optree wanneer hulle uitgesaai word of van een plek op aarde na ’n ander beweeg. Net soos luggolwe word radiogolwe beïnvloed deur verskynsels soos weerkaatsing, refraksie, diffraksie, absorpsie en verstrooiing.
Vandat energie ’n lugdraad verlaat totdat dit deur ’n ander lugdraad opgeneem word, of totdat dit ’n voorwerp tref en gereflekteer word, sal dit deur die ruimte beweeg. Wanneer ’n uitgestraalde radiogolf die lugdraad verlaat, beweeg van die energie grondlangs en volg dit die aarde se kromming – hierdie golwe staan bekend as grondgolwe (oppervlakgolwe). Ander golwe word soos ’n siglyn van punt tot punt voortgeplant of na ’n satelliet gerig en aarde toe teruggekaats en staan bekend as ruimtegolwe. Golwe wat die ruimte in beweeg, omdat hulle onder ’n bepaalde kritieke frekwensie (sowat 30 MHz) uitgesaai word, word teruggekaats aarde toe deur die ionosfeer en staan bekend as luggolwe.