Groottes, vorms en kykhoeke van LED’s LED’s is in ’n verskeidenheid vorms en groottes verkrygbaar. Die "standaard"-LED is rond, met ’n deursnee van 5 mm, en is waarskynlik die beste tipe vir algemene gebruik. 3 mm ronde LED’s is ook gewild.
Ronde LED’s word dikwels gebruik en kan baie maklik op ’n kas gemonteer word deur ’n gat met die LED se deursnee te boor. ’n Druppel gom sal help om die LED in posisie te hou, indien nodig. Daar is ook knippe om LED’s in gate vas te maak. Ander vorms, soos vierkante, reghoeke en driehoeke, is ook beskikbaar.
Afgesien van kleur, grootte en vorm, verskil LED’s ook ten opsigte van die kykhoek. Dit verwys na hoeveel die ligstraal uitsprei. Standaard-LED’s het ’n kykhoek van 60°, maar party het ’n smal straal van 30° of minder.
Berekening van die waarde van ’n LED-weerstand ’n Weerstand moet in serie met ’n LED verbind word om die stroom deur ’n LED te beperk, anders sal hy feitlik dadelik uitbrand.
Die weerstandswaarde R word gegee deur: R = (VS - VL) / I • VS = toevoerspanning • VL = LED-spanning (gewoonlik 2 V, maar 4 V vir blou en wit LED’s) • I = LED-stroom (bv. 20 mA); dit moet minder wees as die toegelate maksimum.
As die berekende waarde nie beskikbaar is nie, kies dan die naaste groter standaard weerstandswaarde, sodat die stroom ’n bietjie minder is as die berekende waarde. Jy kan selfs ’n groter weerstand kies om die stroom te verminder (en byvoorbeeld die batterylewe te verleng), maar dan sal die LED minder helder brand.
Byvoorbeeld:
As die toevoerstroom VS = 9 V en jy ’n rooi LED het (VL = 2 V) wat ’n stroom van I = 20 mA = 0,020 benodig:
R = (9 V – 2 V) / 0,02A = 350 Ω.
Kies dus 390 Ω (die naaste standaard waarde wat groter is).
Flitsende LED’s Flitsende LED’s lyk soos gewone LED’s, maar bevat benewens die LED ook ’n geïntegreerde kring (IK). Die IK laat die LED teen ’n lae frekwensie flits, tipies 3 Hz (3 flitse per sekonde). Hulle word ontwerp om direk met ’n toevoer verbind te word, gewoonlik 9 – 12 V; geen serieweerstand is nodig nie.
LED-vertonings LED-vertonings is verpakkings van ’n aantal LED’s wat in ’n patroon gerangskik is. Die bekendstes is dié met 7 segmente om nommers te vertoon. Die afeeldings hieronder is ’n paar van die gewildes: