Inleiding Veiligheid en noodhulp is die twee belangrikste items wat altyd hoog op die prioriteitslys van enigiemand moet wees wat in enige werkswinkel werk, groot of klein, en selfs op boupersele. Om van veiligheid bewus te wees en basiese noodhulpkennis te besit, kan baie nuttig wees en selfs iemand se lewe red. Die meeste ongelukke word deur menslike nalatigheid veroorsaak. Aangesien elektrisiteit baie gevaarlik is, is dit belangrik om veiligheidsbewus te wees.
In Suid-Afrika beheer die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (BGV-wet) die algemene veiligheid in die land. Die doel van die wet is om werkverwante ongelukke te voorkom of te verminder. Dit probeer ook om werkers van ’n veilige werksomgewing te verseker. Volgens die wet is ’n ongeluk ’n onbeplande, onbeheerde gebeurtenis wat deur onveilige handelinge en toestande veroorsaak is.
Die wet verplig jou werkgewer ook om jou werkswinkel veilig te hou deur mense en komitees aan te stel wat voortdurend kyk dat die werkswinkel veilig is. Werkgewers kan gestraf word as hulle onveilige masjinerie of omstandighede toelaat.
Daar gebeur jaarliks honderde ongelukke op die paaie, in myne, in werksplekke en op boupersele, nie net omdat al hierdie plekke self gevaarlik is nie, maar ook omdat mense oorgerus raak, nalatig optree, konsentrasie verloor of moeg en oorhaastig raak. Onthou, veiligheid is elkeen se verantwoordelikheid, nie net die fabriekeienaar s’n nie! Om ’n werkswinkel veilig te hou, beteken dat almal van ons altyd bewus moet wees van moontlike gevare. Elke leerder moet die kennis en vaardighede aanleer om ongelukke te voorkom.
Oor die algemeen verstaan ons veiligheid as die afwesigheid van gevaar of risiko. Dit is egter ook so dat ongelukke gewoonlik plaasvind wanneer mense oorgerus raak en risiko’s loop, omdat hulle glo dat hulle nie in ’n ongeluk betrokke kan raak nie.
Veiligheid
Daar word dikwels gesê dat ons 98% van alle ongelukke kan uitskakel as ons onveilige handelinge en onveilige toestande kan uitskakel. ’n Werkswinkel is net so veilig as wat jy dit self maak. Mense moet sorg dat daar voldoende veiligheid in enige werkswinkel is, omdat elkeen ten slotte daarvoor verantwoordelik is.
Figuur 1.1: Veiligheidstoerusting Algemene reëls vir die werkswinkel
Werkswinkels kan by tye soms baie bedrywig word, en kan ook uiters gevaarlik wees as daar nie deeglike beheer uitgeoefen word nie. Om te verseker dat alles ordelik verloop en dat daar geen onnodige ongelukke in enige werkswinkel plaasvind nie, is daar ’n paar reëls nodig. Dit is nie net belangrik om jou werkswinkel se reëls op te plak nie, maar ook om hulle af te dwing om ongelukke en beserings te verminder. Hier is ’n paar reëls wat ’n werkswinkel veiliger sal maak: