Soldering is ’n uiters gespesialiseerde vaardigheid wat korrek uitgevoer moet word om goeie resultate te lewer. Van leerders sal meesal verwag word om komponente of draadverbindings op Vero-strookborde of op gedrukte stroombane (PCB’e) te soldeer. Drade kan ook met behulp van die soldeertegniek gelas word om ’n deeglike las te skep.Wanneer daar op ’n Vero- of PCB-gesoldeer word, moet leerders verseker dat die koperbane skoon en nie vetterig is nie.
Die komponent se verbindingsdrade of -laspunte
word deur die bord gedruk sodat dit aan die koperkant van die bord uitsteek. Gebruik nou die soldeerbout om die las warm te maak. Leerders moet verseker dat die soldeerbout kontak maak met beide die komponent se draad en die koperspoor. Wend nou die soldeersel aan die las, nie aan die bout nie. Wees versigtig om nie te veel hitte aan die las wat gesoldeer word te wend nie. Voer ’n stukkie soldeersel na die las, waar dit eweredig oor die draad moet vloei om ’n blink las soos ’n “vulkaantjie” te vorm. Verwyder eers die soldeersel en dan die soldeerbout en laat die las afoel vir ’n paar sekondes. Inspekteer die las om te verseker dat daar ’n goeie, blink “vulkaan” gevorm is. As die las nie na wense is nie, verwarm dit weer en voeg nog ’n stukkie soldeersel by. Wees versigtig om nie te veel soldeersel te gebruik nie, omdat dit ’n “droë” of gryslas kan skep.
Figuur 2.16: Helpende hand
Soms het jy nie genoeg hande om die bord en al die komponente vas te hou nie, en dan gebruik ons die sg. “helpende hand”, soos hier afgebeeld, om die werk te vergemaklik. Onthou, soldeerwerk is ’n spesiale vaardigheid wat baie oefening benodig om te vervolmaak.
Desoldering
Net so belangrik as die vermoë om komponente op ’n bord te soldeer, is om hulle te desoldeer om hulle uit die bord te kry. Desoldering is dus ’n ewe belangrike vaardigheid wat ook baie oefening vereis. Desoldering kan geoefen word deur komponente van ou elektroniese PCB’s te verwyder.
Figuur 2.17:
Om soldeersel van ’n las te verwyder met ’n soldeerselsuier
Wanneer jy ’n defekte komponent van ’n PCB wil verwyder, het jy ’n soldeerbout en ’n sg. soldeersuier nodig. Begin deur die las waarvan jy die soldeersel wil verwyder te verhit. Plaas die punt van die soldeersuier by die gesmelte soldeersel en laat skiet die plunjer; die gesmelte soldeersel word nou in die soldeersuier opgesuig.
Verwyder nou die soldeerbout en herhaal die proses totdat al die soldeersel van die las verwyder is. Maak seker dat die suier se punt nie die warm punt van die soldeerbout raak nie, want dit sal die plastiekpunt smelt. Moet ook nie te veel hitte aan die las laat kom nie, omdat dit die soms baie dun koperbane kan beskadig.
Om ’n eenvoudige PCB te maak
Figuur 2.18: ’n Skoon PCB
28
Die meeste elektronika amateurs bou hulle stroombane op Vero-bord of ’n PCB. Vero-bord is geskik vir eenvoudige stroombane, maar vir meer komplekse stroombane werk ’n PCB die beste. ’n PCB is ’n dun, sintetiese plastiekbord bedek met ’n lagie koper. Enkelkant-PCB’s het net een koperlaag en tweekant-PCB’s het koper aan albei kante van die plastiekbord. Hier volg ’n paar stappe in die maak van ’n eenvoudige PCB.