Basiese struktuur Hoewel daar baie maniere is om LAR’e te maak, is daar vanselfsprekend ’n paar meer algemene metodes. Basies bestaan ’n LAR uit ’n weerstandsmateriaal wat liggevoelig is en aan lig blootgestel word. Die ligweerstandselement bestaan uit ’n deel van die materiaal met kontakpunte aan elke kant. Alhoewel baie van die materiale wat vir ligafanklike weerstande gebruik word halfgeleiers is, word hulle in hulle rol as LAR slegs as weerstandselemente gebruik en is daar geen PN-spergebied nie. Gevolglik is die komponent bloot passief.
’n Tipiese struktuur vir ’n ligafanklike weerstand bestaan uit ’n aktiewe halfgeleierlaag wat op ’n isolerende onderlaag gedeponeer word. Die halfgeleier word gewoonlik ligweg gedoteer om dit die nodige geleidingsvermoë te gee. Kontakte word dan weerskante van die ontblote oppervlak geplaas.
In baie gevalle is die area tussen die kontakte in die vorm van ’n sigsag- of interdigitale patroon. Dit maksimiseer die ontblote area en, omdat dit die afstand tussen die kontakte klein hou, verbeter dit die wins.
’n Polikristallyne halfgeleier wat op ’n onderlaag soos keramiek gedeponeer word, kan ook gebruik word. So word ’n ligafanklike weerstand teen baie lae koste verkry.
Ten einde te verseker dat die weerstand van die ligafanklike deel van die LAR die grootste komponent van die weerstand is, moet alle ander onnodige weerstande tot die minimum beperk word. Die weerstand tussen die kontak en die halfgeleier sou een van die grootste bronne in hierdie verband kan wees. Om hierdie bron van weerstand te verminder, word die area om die metaalkontak swaar gedoteer om sy geleidingsvermoë te verhoog.
LAR-toepassings Die fotoweerstand of ligafanklike weerstand vind baie toepassings as ’n goedkoop, liggevoelige element en is jare lank in fotografiese ligmeters gebruik, asook vir ander doeleindes soos vlam-, rook- en inbraaksensors, kaartlesers en beheerstelsels vir straatlampe.
Gloeilamp
Die gloeilamp is ’n toestel wat lig afgee deur ’n materiaal tot ’n hoë temperatuur te verhit. Die bekendste voorbeeld van ’n gloeilamp is die gewone huishoudelike gloeilamp. Dit bestaan uit ’n gestrekte of spiraalvormige tungstendraad wat in ’n glasbol verseël is, wat op sy beurt met ’n gas gevul is wat nie met die tungsten of die bol sal reageer nie. Hierdie onaktiewe gas is ’n mengsel van stikstof en argon in ’n verhouding wat geskik is vir die wattvermoë, of helderheid, van die lamp. Wanneer ’n elektriese stroom deur die gloeidraad vloei, verhit dit die filament tot ’n temperatuur van sowat 3 000 °C, wat die element laat gloei en lig afgee.
Polikristallyne materiale is vaste stowwe wat bestaan uit kristalliete wat verskil in grootte en oriëntasie. Hulle is feitlik almal metale. Baie soorte keramiek is poli- kristallyn.