Inleiding Aan die einde van hierdie hoofstuk sal jy meer geleer het van enkele beveiligingstoestelle wat in die elektriese bedryf gebruik word. Die hooflem sal op die bou en basiese werking daarvan val.
Beveiliging
Die beveiliging van kragstelsels is ’n tak van elektriese ingenieurswese wat hom bemoei met die beveiliging van elektriese stelsels deur defekte dele van die res van die net te isoleer. Die doel van ’n beveiligingskema is om die kragstelsel stabiel te hou deur slegs die defekte komponente af te sonder en soveel van die net as moontlik in bedryf te hou.
Beveiligingstelsels bevat gewoonlik vyf komponente: • Stroom- en spanningstransformators om die hoë spannings en strome van die elektriese kragstelsel tot hanteerbare vlakke vir die relês te verlaag
• Relês om die fout aan te voel en ’n uitklink- of ontkoppelingsbevel uit te voer • Stroombrekers om die stelsel deur ’n relê oop of toe te maak • Batterye om krag te lewer vir indien krag in die stelsel afgeskakel word • Kommunikasiestelsels om ontleding van stroom en spanning op afstandterminale van ’n lyn moontlik te maak en toerusting op afstand uit te klink.
• Vir dele van ’n verdeelstelsel is sekerings in staat om foute aan te voel en te isoleer.
Sekerings In elektronika en elektriese ingenieurswese is ’n sekering (smeltdraad) ’n soort eenmalige oorstroombeveiliger. Sy kenmerkende komponent is ’n metaaldraad of -strook wat smelt as daar te veel stroom daardeur vloei, wat dan die kring waarin dit geplaas is, onderbreek (ontkoppel).
Oorstroombeveiligers is ’n essensiële deel van toestelle en van kragverdelingstelsels wat bedreigings van menselewens en eiendomskade moet beperk. ’n Stroom wat te lank te hoog is, kan ’n draad laat oorverhit, dit beskadig of selfs ’n brand veroorsaak. Bedradingsregulasies definieer dikwels ’n maksimum sekeringstroomaanslag.
Figuur 7.1: Sekeringskodes
Snelsmeltsekeringe Hulle is ontwerp om die mees sensitiewe elektroniese en elektriese toestelle te beveilig, waar selfs ’n kortstondige oormatige stroom baie skade kan aanrig. Die voordeel van hierdie soort sekering is dat dit vinnig smelt en snelwerkend is. Nog ’n voordeel van hierdie soort sekering is dat dit relatief goedkoop is om te vervang. Daar is die nadeel dat die sekering kan smelt vir betreklik geringe stygings in die stroom deur jou toestel. Dit kan nie die soort tydelike stuwings wat verband hou met sommige elektriese ladings weerstaan nie. Gebruik slegs die sekering met die regte aanslag vir die regte aanwending.