• Die PCB is nou gereed om met komponente gepak te word. Helder vernis kan oor die bevolkte bord gespuit word om die koperbane mooi blink te hou en ook om hulle teen kortsluitings te isoleer.
Voorsorgmaatreëls tydens die maak van ’n PCB
Figuur 2.21: Geëtste, geboorde en skoongemaakte PCB
• Dra altyd ’n voorskoot wanneer jy werk met ysterchloried, want dit kan jou klere vlek as dit daarmee in aanraking kom.
• ’n Skutbril is noodsaaklik, omdat chemiese stowwe in jou oë jou blind kan maak. • Gebruik handskoene wanneer jy etswerk doen. Die chemikalieë kan jou vel verkleur en ook velirritasies veroorsaak.
• Werk in ’n goed-geventileerde vertrek. • Stoor al die gebruikte ysterchloried in ’n groot plastiekhouer met ’n deksel wat deur ’n spesiale afvalfirma verwyder kan word wanneer dit vol is.
• Moet nooit metaalhouers gebruik nie; gebruik eerder plastiek of keramiek (porselein). Ysterchloried val die meeste metale aan.
Basiese meetinstrumente Inleiding
Figuur 2.22: Analoog-multimeter
Die multimeter is een van die veelsydigste en gewildste elektroniese meetinstrumente wat jy deesdae in die mark kan kry. Dit kan beskou word as die ingenieur, tegnikus of ambagsman se Switserse weermagmes. Soos die naam aandui, is dit ’n meetapparaat met meer as een gebruik. Die multimeter word gebruik om spanning (WS en GS), stroom (WS en GS) en weerstand te meet. Daar moet egter op gelet word dat die jongste multimeters selfs frekwensie, kapasitansie en temperatuur kan meet en halfgeleiers soos transistors en diodes kan toets. ’n Multimeter kan van die analoë tipe (met bewegende wyser) of digitale tipe (met syfervenster) wees.
Multimeters
Die belangrikste verskil tussen analoog en digitaal is dat die analoog-multimeter ’n wyser het wat oor die wyserplaat van die meter beweeg om die verskillende skale van spanning, stroom en weerstand aan te dui. Die naald kan dwarsoor die skaal beweeg en by enige punt stop. Die digitale multimeter vertoon weer ’n digitale lesing wat in syfers aandui wat ook al gemeet word, hetsy spanning, stroom of weerstand.
Figuur 2.23: Digitaal-multimeter
’n Analoog-multimeter bestaan in wese uit drie toestelle: ’n Deflekteertoestel – Die stroom of spanning wat die meganiese krag opwek wat die wyser laat afwyk vanaf nul om ’n lesing te gee. ’n Beheertoestel – ’n Toestel wat teenoor die defleksiekrag optree. Dit is gewoonlik een van twee soorte toestelle wat die defleksie deur ’n veer of swaartekrag beheer. ’n Demptoestel – ’n Toestel wat verseker dat die wyser so gou doenlik sonder skommelinge na sy uiteindelike posisie beweeg. Daar is drie soorte dempkragte: ’n Eddy-stroom, lug- en vloeistofwrywing.
In die meeste analoog-multimeters is daar ’n spieëlstrokie agter elke skaal om te verhoed dat die leser ’n parallaksfout begaan. Die leser moet altyd verseker dat die meterwyser haaks met die skaal is om hierdie fout te verhoed. Om akkurate lesings te verseker, moet die analoog-multimeter eers met die hand op nul gestel word. Dit word gedoen deur die twee toetsdrade teen mekaar te hou en die wyserversteller voor op die meter te verstel sodat dit presies nul ohm aanwys.