Beroepsveiligheid en gesondheid Plasing van hoofskakelaar
As die hoofskakelaar aan die masjien self is, moet dit aan die voorste panel gemonteer word. As dit verwys na die hoofskakelaar van ’n huishouding, moet dit by die ingangspunt van die hooſtoevoer aangebring word.
’n Belangrike
veiligheidsvereiste vir enige elektriese toerusting is dat dit ’n isoleertoestel moet hê. Dit mag die toerusting se eie kragprop wees of enige ander toestel waarmee die toerusting heeltemal van die kragtoevoer afgesny kan word. As jy verkies dat die hoofskakelaar hierdie isoleertoestel moet wees, moet dit ’n dubbelpool-skakelaar wees, d.w.s. dit moet beide die lewendige en neutrale geleiers onderbreek. Vir die veilige gebruik en bediening van hierdie elektriese toerusting moet hierdie hoofskakelaars, van watter tipe ook al, in goeie werkende orde wees, aan die regte veiligheidsvereistes voldoen en maklik bereikbaar wees.
Ontruimingsprosedures in ’n noodgeval
Die suksesvolle ontruiming van ’n werkswinkel/gebou/laboratorium hang af van die korrekte toepassing van die ontruimingsprosedures. Om elke ontruiming suksesvol te laat verloop, moet die werkswinkel/gebou/laboratorium die volgende in plek hê: • Goed gemerkte nooduitgange. • Helder verligte noodgange en –looppaaie. • Maklik leesbare vloerplan vir noodontruiming. • Proefontruimings minstens tweekeer jaarliks.
Die volgende basiese stappe moet gevolg word in enige noodgeval waar die werkswinkel/gebou/laboratorium ontruim moet word: 1. Bly altyd KALM en moenie PANIEKERIG raak nie. 2. Maak seker dat alle vroue, kinders en besoekers veilig is. 3. Inspekteer jou onmiddelike omgewing vir gevare. 4. Wees versigtig om nie te struikel nie. 5. Indien moontlik, gaan na alle kragpunte in die vertrek en skakel dit af. 6. Moenie hysbakke gebruik nie. 7. Moenie hardloop nie. 8. Moenie persoonlike items probeer bymekaarmaak nie. 9. Ontruim die vertrek op ordelike wyse deur die naaste branduitgange en versamel in die ontruimingsterrein.
Veiligheid ten opsigte van elektriese gereedskap
Dit kan baie gevaarlik wees om met elektriese kraggereedskap te werk, dus is dit belangrik om te sorg dat sulke gereedskap in ’n goeie toestand is en met sorg hanteer word. In ’n werkswinkelomgewing is dit raadsaam om ’n spesifieke persoon aan te stel om hierdie gereedskap gereeld na te gaan. Wees op die uitkyk vir die volgende:
• Los verbindings • Kaal geleiers • Swak lasse in kabels • Gebreekte skakelaars • Gekraakte of gebreekte isolasie • Stukkende of foutiewe aarding
Veiligheidsmaatreëls vir werk met spesifieke kraggereedskap en spesiale prosesse
Dit is belangrik om die nodige veiligheidsmaatreëls te tref wanneer daar met kraggereedskap gewerk en spesiale chemikalieë gebruik word. Kom ons kyk na ’n paar veiligheidsmaatreëls wat vir spesifieke kraggereedskap en etskaarte geld.