Gloeidraad Knoppie Steel Hitteskerm Uitlaanbuis Voet Skroefvoet Figuur 5.14: Onderdele en simbool van gloeilamp
Die gloeilamp is gebaseer op die beginsel van gloeiing, wat beteken dat vaste stowwe en gasse sigbare lig afgee wanneer hulle brand of wanneer ’n elektriese stroom hulle voldoende verhit. Elke materiaal gee ’n lig af wat kenmerkend vir daardie materiaal is.
In 1812 het die Britse skeikundige, Sir Humphrey Davy, die eerste keer gloeiing deur middel van ’n elektriese stroom gedemonstreer deur platinumstrokies elektries in die opelug te verhit. Die eerste patent vir ’n gloeilamp is in 1841 aan die Britse uitvinder Frederick de Moleyns toegeken, in wie se lamp houtskoolpoeier wat tussen twee platinumdrade verhit is as ’n ligbron gebruik is.
Die uitvinding van vakuumpompe het dit moontlik gemaak om gloeilampe algemeen vir verligting te gebruik. In 1878 het die Britse wetenskaplike, Sir Joseph Wilson Swan, die moderne lamp uitgevind, wat met koolstofdrade in ’n laedrukglasbol gewerk het. Die uitvinding van die lamp word meer dikwels in verband gebring met die Amerikaanse uitvinder Tomas Alva Edison. Hy het op sy eie dieselfde toestel ’n jaar later uitgevind in die verloop van sy werk aan die ontwikkeling van die elektriese infrastruktuur wat dit moontlik gemaak het om gloeilampe op groot skaal in ’n verligtingstelsel te gebruik.
Statiese elektrisiteit
Statiese elektrisiteit is die opbou van elektriese ladings op ’n voorwerp of materiaal. Dit ontstaan gewoonlik wanneer materiale van mekaar af weggetrek of teen mekaar gevryf word en positiewe (+) en negatiewe (-) ladings op die onderskeie oppervlakke ontstaan. Statiese elektrisiteit kan vonke of skokke veroorsaak, of materiale aan mekaar laat kleef.
Statiese elektrisiteit is die akkumulasie van elektriese ladings op die oppervlak van ’n materiaal, gewoonlik een wat nie elektrisiteit gelei nie. Dit word staties genoem omdat daar geen stroomvloei nie, anders as by wissel- of gelykstroom (WS of GS). Daar is tipies twee materiale by statiese elektrisiteit betrokke, waarvan een ’n oormaat elektrone (oſtewel negatiewe (–) ladings) en die ander materiaal ’n oormaat positiewe (+) elektriese ladings op sy oppervlak het. Atome naby die oppervlak van ’n materiaal wat een of meer elektrone verloor het, sal ’n positiewe (+) lading hê.